Die gedwonge huwelik wat nuwe SEB-teikens skep sal nie werk nie

2014-10-14
Adv Anton Alberts

Die nuwe teikens wat deur Swart Ekonomiese Bemagtiging geskep word, is onrealisties en ʼn kunsmatige en gedwonge sakevennootskap en sal so min werk as 'n liefdelose huwelik, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.

Adv. Alberts sê dit is duidelik dat die ANC-regering se ekonomiese beleid fascisties is soos toegepas deur Benito Mussolini. Dit is ʼn antiparlementêre staatstelsel waar die wetgewende en uitvoerende gesag en die toepassing van alle beleidsake by ʼn diktator berus.

“Wat die ekonomie van Suid-Afrika aanbetref beteken dit in die praktyk dat die staat die ekonomie besit en bestuur deur onder meer reëls neer te lê oor die eienaarskap van sakeondernemings,” sê adv. Alberts.

Die departement van handel en nywerheid het Vrydagmiddag die tweede stel gewysigde bemagtigingskodes vanjaar ingevolge die Wysigingswet op Breë Swart Ekonomiese Bemagtiging vir kommentaar uitgereik. Dié kodes is onder meer op kwalifiserende klein ondernemings van toepassing.

Dit bepaal dat klein ondernemings met ’n omset van tussen R10 miljoen en R50 miljoen minstens 25% van hul onderneming aan swart aandeel­houers moet verkoop.

Adv. Alberts sê hierdie nuwe reëls is ongrondwetlik en onuitvoerbaar en die meeste besighede gaan net moed opgee om eens te probeer om dit na te kom.

“Waar kry ʼn mens swart vennote as hulle nie bestaan nie? Daar is bloot nie genoeg vermoënde en opgeleide swartes om uitvoering te gee aan hierdie onrealistiese planne nie.

“Die VF Plus sal die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid vra om hierdie kodes te verwerp. Andersins sal ons regsadvies kry en besin oor regstappe in samewerking met die sakewêreld,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 083 419 5403