Die besluit van ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) om Vereeniging-afleggings op ys te plaas, word verwelkom

2015-08-05
Adv Anton Alberts

Die VF Plus verwelkom die aankondiging van ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) om afleggings by sy Vereeniging-aanleg vir eers op ys te plaas en met die vernaamste rolspelers te konsulteer voordat verdere stappe oorweeg gaan word,” sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder vir handel en nywerheid.

Amsa het sy artikel 189A-afleggingskennisgewing Dinsdag voorlopig teruggetrek en het onderneem om met alle belanghebbendes, wat vakbonde insluit, te onderhandel.

Adv. Alberts sê die VF Plus het reeds onderneem om in die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid die kwessie onder die vergrootglas te plaas om in die belang van Suid-Afrika se brose ekonomie die verlies van werksgeleenthede te keer.

Hy sê sodanige werkverliese sal die ekonomie in die Vaaldriehoek potensieel vernietig en tot grootskeepse maatskaplike ellende ly.

“Die VF Plus het voorgestel dat daar ondersoek gedoen word na die verhoging van invoerbelasting op staal weens die feit dat goedkoop staal van Sjina tans in Suid-Afrika gestort word.

“Dit moet egter bloot ʼn tydelike maatreël wees en moet gedoen word om die bedryf ruimte gee om sy ekonomiese model te herstel terwyl werkverliese beperk word. Die VF Plus het verneem dat daar tans ʼn ondersoek in die verband gedoen word en sal ook dié proses monitor,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403