Daspoort sewe maande in die donker

2015-02-19
Die Redaksie

Moedelose inwoners van Daspoort het die VF Plus genader en gevra om in te tree nadat hulle tevergeefs verskeie versoeke aan die Tshwane-metroraad gerig het om straatligte in Ribbenstraat, Daspoort te herstel.

Rdl. Barend Erasmus, VF Plus-raadslid in die Tshwane-metroraad, het op versoek van mnr. Freek Kloppers, Ribbenstraat in Daspoort besoek. Die straat huisves die bekende Dagama-wooneenhede waar ʼn groot groep bejaardes woon. Dié straat se ligte het sewe maande laas gebrand.

Met rdl. Erasmus se besoek het mense hul misnoeë uitgespreek omdat die Tshwane-metroraad niks daadwerklik aan die probleem doen nie. Sowat 80 inwoners word hierdeur geraak. Amptenare van die munisipaliteit het op ʼn keer die straat besoek, maar sonder sukses.

“Bejaardes is bang om in die aand uit te gaan omdat hulle weerloos voel. Misdaad het sedertdien toegeneem en verskeie motors is gesteel. Huiseienaars wat dit kan bekostig het addisionele ligte buite hul huise aangebring om so meer lig te verseker.

“Hierdie is weer ʼn bewys dat dienslewering vinnig agteruitgaan en die raad nie ʼn duit omgee oor hul inwoners se veiligheid nie,” het rdl. Erasmus gesê.

Rdl. Erasmus het reeds verskeie kere by die raad gaan aanklop en sal aanhou totdat hulle gehoor gee.

Intussen is Ribbenstraat, Daspoort, in die donker.

 

Raadslid Barend Erasmus

VF Plus Raadslid Tshwane Metro

Tel: 078 1100114

bennieerasmus@live.co.za