Dank swak amptenare summier af en vorder dienstegelde in om munisipale probleme op te los

2015-05-14
Dr Pieter Groenewald

Die ANC het 21 jaar gelede self die kultuur van wanbetaling van dienstegelde geskep, en het sedertdien nog niks gedoen om dit te beëindig nie, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se parlementêre woordvoerder vir samewerkende regering en tradisionele sake.

Dr. Groenewald het vandag met die begrotingstem-debat van dié departement gesê swak amptenare in die vorm van kaderontplooiing moet summier verwyder word en dienstegelde moet sonder uitsondering ingevorder word om plaaslike regerings se probleme op te los.

“Die minister en sy adjunk kom jaar na jaar met hierdie begrotingspos en vertel hoe bekommerd hulle is en van die baie uitdagings voor hulle. Vandag weer het die minister hier kom sê slegs 56% van munisipale bestuurders, en 61% van finansiële bestuurders is gekwalifiseerd.

“Is die regering dan verbaas dat ons met die chaos sit op plaaslike regeringsvlak? Daar is R98 miljard uitstaande aan dienstegelde met staatsdepartemente wat nie eens hul rekenings betaal nie. Hoe is dit moontlik? As iemand aan die begin van ʼn finansiële jaar weet hy is agterstallig, moet hy mos betaal. Hoekom moet die agterstallige geld jaar na jaar oorgedra word?

“Neem Noordwes as ʼn voorbeeld. Die afgelope vier, vyf jaar is daar feitlik geen munisipaliteit wat ʼn skoon oudit het nie. Dan kondig die regering nog talle projekte aan met administrateurs wat in baie gevalle nog meer korrup as die amptenare is.

“Dit los nie die probleem op nie. Nou wil u dit doen deur munisipaliteite saam te voeg. Die herafbakeningsraad moet nou sekere munisipaliteite se grense verander om wyke by te voeg. Die argument wat hiervoor gebruik word, is om te sê munisipaliteite met ʼn swak finansiële basis, kan baat vind by ander.

“Die staat mislei homself as hy so dink. Die probleem is swak finansiële bestuur en onbevoegdeheid, en dit wil voorkom of die betrokke minister nie weet wat die werklike probleem is nie.

“As u plaaslike regering wil regruk, moet daar onmiddellik van onbevoegde amptenare ontslae geraak word sonder om hulle net weer met ander kaders te vervang. En u moet seker maak dat dienstegelde betaal word.

“Kyk na die voorbeeld in Soweto waar mense nie wil betaal nie aangesien die ANC glo in 1994 gesê het dienste sal verniet wees as hy die verkiesing wen. Dit is weer ʼn geval waar die ANC politieke beloftes maak wat hy weet hy nie kan nakom nie.

“Hierdie dinge het gelei tot die chaos wat ons nou op plaaslike vlak het. Dit help nie die minister kom sê jaar na jaar hy is bekommerd nie. Hy moet iets aan die situasie begin doen,” sê dr. Groenewald.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403