Daar is te veel potensiaal in SA se mynbedryf om dit te vernietig

2015-08-05
Adv Anton Alberts

Daar is te veel potensiaal in die Suid-Afrikaanse mynwese om toe te laat dat dit vernietig word aangesien dit die land ekonomies sal laat inplof, of tot op die randjie daarvan sal dryf, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.

Adv. Alberts het gister in ʼn parlementêre bespreking oor transformasie en die volhoubaarheid van die mynboubedryf gesê daar moet nogtans nou reeds beplan word vir ʼn ekonomie met minder mynbedrywighede.

Hy sê die kommoditeitsiklus loop ʼn ‘lang draai’ en dit is belangrik vir Suid-Afrika se ekonomie om te diversifiseer ten einde werksgeleenthede te skep en te behou.

“Goeie leierskap en samewerking tussen alle belanghebbendes is nou noodsaaklik om rigting te gee in die soeke na volhoubare oplossings. Mynbase moet investeer in werkers en hul gesondheid, asook in gemeenskappe rondom myne.

“Vakbonde en hul lede moet besef die wêreld verander snel. Waar daar voorheen meestal in rasseterme ʼn stryd gevoer is tussen eienaars en werkers, sal dit spoedig ʼn stryd wees tussen mens en robot in die werkplek.

“Die sombere wetenskapsfiksie-toekoms is nog nie heeltemal met ons nie, maar die fase word gewis betree waar meganisering ʼn groter rol sal speel soos die tegnologie ontwikkel. Masjiene, robotte en ander vorme van tegnologie sal die mens toenemend in werkplek vervang as teenvoeter vir arbeidskoste en lae produksie.

“ʼn Gebalanseerde benadering is daarom nodig vir werk-volhoubaarheid in ʼn arbeids-intensiewe mineralebron-industrie. Vakbonde wat onbillike eise stel, gaan alles verloor wanneer myne eerder tegnologie gaan begin inspan, of uit die land onttrek.

“Die ANC-regering het ook ʼn rol te speel deur beleidsekerheid te skep om buitelandse beleggings te lok en om bestaande myne te laat groei in harmonie met die omliggende gemeenskappe, werkers en die natuurlike omgewing. Dit gebeur tans nie.

“Die kwessie van die onteiening van mineraleregte is ook ʼn groot bron tot kommer. Alhoewel die Grondwethof onteiening eerder as voogdyskap vertolk, is dit ʼn gegewe dat regte reeds eensydig vervreem is. Dit is belangrik dat vergoeding deel van die proses moet wees, al is dit in die vorm van toekomstige winsdeling. So iets sal ʼn billike oplossingvir ʼn moeilike probleem bied,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403