DA moet sê oor naamsverandering by skole

2015-03-31
Rdl André Fourie

Die stof het nog nie gaan lê om die voorstel van die DA om weg te doen met Wes-Kaapse skole se ‘apartheidsname’ nie en selfs die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, skarrel nou om skadebeheer hieroor toe te pas, sê mnr. André Fourie, VF Plus-raadslid vir die Stad Kaapstad.

Me. Debbie Schafer, die Wes-Kaapse minister van onderwys, het verlede week gesê die tyd het aangebreek dat skole met name wat uit die dae van apartheid dateer, dit nou verander.

Volgens mnr. Fourie het haar uitlatings dat skole nie meer ‘gebuk moet gaan’ onder name uit die apartheidsera nie, luide applous van DA- en ANC-lede uitgelok.

Wes-Kaapse skole en die publiek het teen die naweek hul ongelukkigheid met die voorstel duidelik in die media laat blyk. In ʼn vraag van die VF Plus hieroor, het premier Zille oor die minister se uitlatings geswyg en bloot gesê:

“Geen skoolname gaan verander word nie, tensy die beheerliggaam dit wil verander. Dit was nog altyd so gewees. Dis wat die wet tans bepaal. ”

Mnr. Fourie sê die Wes-Kaapse regering en die premier kan hulle nie so maklik van Schafer se uitlatings distansieer in die hoop om daarmee weg te kom nie.

Hy sê in die lig van die hewige aanslag wat tans op die Afrikaner en ander minderhede gevoer word op haas elke gebied, van Afrikaans by universiteite tot naamsveranderinge by skole en die wegmaking van standbeelde, is dit moeilik om in te sien dat die minister se tydsberekening oor naamsveranderinge by Wes-Kaapse skole toevallig was.

“Dit is skokkend dat die Wes-Kaapse regering ook in hierdie provinsie ongedurigheid en wrywing wil skep waar dit nie bestaan nie, welwetende dat ʼn klein vonkie ʼn hewige reaksie kan veroorsaak in die revolusie-politiek wat ons tans in Suid-Afrika beleef.

“Is dit blote toeval dat me. Schafer se voorstel kom kort na soortgelyke voorstelle van die Gautengse LUR vir onderwys? Sulke uitlatings plaas groot politieke druk op skole.

“Die VF Plus vra die premier om onomwonde te verklaar of die DA sy onderwysminister se voorstel oor naamsveranderinge in die Wes-Kaap steun. Ook wat soortgelyke veranderinge in die res van die land aanbetref.

“Die DA moet sê wat hy sal doen indien daar protesaksies soortgelyk as dié oor Rhodes se standbeeld by Afrikaanse skole uitbreek. Wie se kant gaan hy kies?” vra mnr. Fourie.

 

Kontaknommer: 083 441 9262