DA-leier en Wes-Kaapse premier, Helen Zille, gee Afrikaners nou 'n koue skouer

2015-01-13
Rdl André Fourie

Wat nou met die voormalige Wes-Kaapse DA-leier, Theuns Botha, gebeur het, wys op ʼn duidelike patroon waar regstellende aksie in die provinsie gebruik word om van Afrikaners en meer behoudende senior DA-lede ontslae te raak ter wille van swart steun, sê mnr. André Fourie, VF Plus-raadslid vir Stad Kaapstad.

Mnr. Fourie sê alhoewel dit heftig ontken word in DA-kringe, het mnr. Botha, een van die prominente Afrikaner-stigterslede van die DA, nog altyd ʼn senior portefeulje in die Wes-Kaapse regering beklee.

Hy sê Botha se nuwe pos as minister van sport en ontspanning word allerweë gesien as ʼn vernederende demovering en tekenend van die koue skouer wat Afrikaners al hoe meer van die premier, me. Helen Zille, te wagte kan wees.

“Hierdie tendens het reeds begin toe burgemeester Patricia de Lille haar eerste burgemeesterskomitee aangestel het na die munisipale verkiesing in 2011 en intussen weer toe behoudende senior DA-raadslede soos Clive Justus, Marian Nieuwoudt, Felicity Purchase en Demetri Qually van hul poste onthef is en regstellende aksie toegepas is.

“Hierdie proses het ook gereflekteer in die DA se kandidaatlyste op al drie vlakke van regering, parlementêr, provinsiaal en munisipaal.

“Ook interessant is die bevoordeling van voormalige ID-lede en die feit dat waarskynlik meer as die helfte van die senior uitvoerende poste in die stad aan De Lille-ondersteuners toegeken is ten koste van DA-lede met jare se ondervinding.

“Die DA slaan duidelik ʼn nuwe koers in met sy desperate poging om swart mense te beïndruk. Beide wit- en bruin- DA-verteenwoordigers en aspirant verteenwoordigers moet hulself gereed maak om hierdeur geraak te word.

“Die res van die ANC-beheerde landsregering – op sentrale, provinsiale en munisipale vlak, sowel as in staatskorporasies, betaal volgens die Staatsdienskommissie en die Ouditeur-Generaal ʼn swaar prys vir regstellende aksie.

“Die vraag is waarom die DA nie hieruit kan leer nie, en wie se kop volgende in die provinsie gaan rol in die naam van regstellende aksie,” sê mnr. Fourie.

 

Kontaknommer: 083 441 9262