DA gebruik VF Plus se regsopinies en argument in hofsaak teen E-Tolwet

2014-03-03
Adv Anton Alberts

Die DA se hofsaak oor die E-Tolwet wat hierdie week in die Wes-Kaapse Hooggeregshof aangehoor sal word is ‘n kwessie van ‘met ander mense se kalwers ploeg’ en getuig van die DA se politieke opportunisme. Die DA se hofaansoek is gegrond op die VF Plus se argumente oor die geldigheid van die E-Tolwet wat die party in Februarie 2013 in die parlementêre portefeuljekomitee oor vervoer aangevoer het, en wat ook in die party se hofsaak gebruik is in Desember 2013.

Die VF Plus se hofaansoek in die Gautengse Hooggeregshof in Desember 2013 om die geldigheid van die E-Tolwet op ‘n dringende basis te oorweeg en ‘n interdik teen die inwerkingstelling daarvan te bekom, is van die hand gewys. Die hof het egter geen uitspraak gelewer of oorweging geskenk aan die meriete van die argumente oor die E-Tolwet nie. Die VF Plus het die hofaansoek daarna op die gewone rol laat plaas en die saak sal binnekort aangehoor word.

Adv. Alberts het reeds in Februarie 2013 in die portefeuljekomitee oor vervoer in die parlement dit duidelik gestel dat die E-Tolwet ongeldig is, omdat die konsepwet verkeerdelik as 'n art. 75-wet geklassifiseer was. Die wet moes as 'n art. 76-wet geklassifiseer gewees het, omdat dit 'n direkte impak op die ekonomie van provinsies het. Hierdie Wet moes daarom volgens die Grondwet ook in die Nasionale Raad van Provinsies gedien het. 

Die DA-lid wat in die parlementêre komitee dien, het dit duidelik in die komiteevergadering gestel dat hy nie met adv. Alberts saamstem nie en dat die Wet nie as ‘n art.-76 wet geklassifiseer moes wees nie. Volgens hom is die doelwit van die Wet slegs om die padvervoer te reguleer en het nie ‘n invloed op die funksies en ekonomie van die provinsie nie.

Die DA het egter van strategie verander toe dit duidelik geblyk het dat die DA-koukus in die parlement teen die publiek se belange opgetree het. Die DA het vir die eerste keer erken dat die E-Tolwet verkeerd geklassifiseer is nadat president Jacob Zuma die VF Plus se skriftelike versoek om die Wet terug parlement toe te stuur van die hand gewys het en die VF Plus aangekondig het dat die party ‘n hofaansoek sou bring om die Wet ongeldig te laat verklaar.

“Hierdie hofaansoek van die DA is weereens ‘n sprekende voorbeeld van die DA se politieke opportunisme. Die DA het self ‘n e-tolstelel in die Kaap ingestel (die Chapman’s Peak-tolpad) maar bring nou ‘n hofaansoek op die basis van ‘n ander politieke party se optrede en regsopinies om die indruk te skep dat die DA vir gewone padgebruikers se regte veg.

Indien die DA se hofaansoek op die gronde van die VF Plus se regsopinies en –argumente slaag en die E-Tolwet word ongeldig verklaar, sal die VF Plus onmiddellik ‘n klasaksie teen die regering en SANRAL instel. Sou die DA se aansoek van die hand gewys word, sal die VF Plus se hofaansoek wat aanvullende regsopinies en –argumente bevat, die laaste keerwal teen die e-tolstelsel wees.

 

Kontaknommer: 082 391 3117