Cosatu se uitlatings dat wit mense uit die staatsdiens ontslaan moet word, is ongrondwetlik en rassisties

2014-04-17
Adv Anton Alberts

Die Vryheidsfront Plus se toekenning van Nar van die Week gaan hierdie week aan Tony Ehrenreich, provinsiale sekretaris van Cosatu in die Wes-Kaap, wat vandag in die Cape Argus sê dat meer as die helfte van alle wit staatsamptenare ontslaan moet word indien die ANC die provinsie in die algemene verkiesing wen.

Adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor arbeid, sê sulke uitsprake is ongrondwetlik en ‘n bewys dat Cosatu ware rassiste is.

Hy sê indien die VF Plus in 'n opposisie-koalisie in die Wes-Kaap regeer, sal dié party toesien dat Cosatu se greep op die ekonomie in dié provinsie gebreek word sodat ware ekonomiese groei kan plaasvind wat almal, en veral die bruinmens en Khoisan, van armoede kan bevry.

Luidens die Cape Argus-berig sê Ehrenreich wit mense se diens sal ‘binne ʼn jaar’ beëindig moet word indien die ANC wen.

Die berig lui onder meer: “Hulle (wittes) moet hul eie besighede op die been bring. Hulle is in staat om dit te doen omdat hulle die netwerke asook die geskiedkundige infrastruktuur het wat daarvoor nodig is”.

Volgens adv. Alberts is Ehrenreich se verdere uitlatings dat “sonsondergang-klousules” wat werk aanbetref nie meer bestaan nie en dat die voortgesette voorkeur vir wittes wat werk aanbetref stopgesit moet word, skokkend rassisties.

“Die VF Plus sal aanhou veg dat meriete in die werkplek moet geld, ongeag kleur. In ‘n koalisie-regering in die Wes-Kaap sal ons ook toesien dat wit en bruin nie onderwerp word aan die ANC-regering se kwotas in die werkplek wat op die nasionale demografie gegrond is nie.

“Die tragiese van hierdie onderdrukking van wit en bruin is dat die land se amptelike opposisie, die DA, ook die wette oor regstellende aksie steun en dit inderdaad self toepas in Kaapstad,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403