Clive Derby-Lewis se mislukte parool dui op politieke oorwegings en dubbele standaarde

2015-01-30
Dr Pieter Mulder

Politieke oorwegings en dubbele standaarde het sonder twyfel die deurslag gegee in die regeringsbesluit oor die parool-aansoek van Clive Derby-Lewis, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Dr. Mulder sê amnestie is in die verlede toegestaan aan mense soos Robert McBride wat talle onskuldige mense vermoor het met ʼn bomaanval in die Magoo's-bar in Durban, en aan PAC-lede wat onskuldige kerkgangers in Kaapstad vermoor het.

“Hulle het almal amnestie gekry omdat in die interim-Grondwet staan: ‘Die geleentheid is nou daar om dit (vergrype van die verlede) reg te stel op ʼn grondslag dat daar ʼn behoefte bestaan aan begrip en nie wraaksug nie, ʼn behoefte aan herstel en nie vergelding nie, ʼn behoefte aan medemenslikheid en nie viktimisering nie.’

“Daarom het hierdie aanvallers amnestie gekry vir dade wat met ʼn politieke motief gepleeg is,” sê dr. Mulder.

Mnr. Michael Masutha, minister van justisie en korrektiewe dienste, het wel die parool-aansoek van Eugene de Kock, wat regtens daarvoor gekwalifiseer het, in die ‘gees van nasiebou en versoening’ goedgekeer.

Dr. Mulder sê die VF Plus verwelkom De Kock se vrylating teen die agtergrond van ander mense wat wel amnestie gekry het.

Hy sê wat Derby-Lewis aanbetref het die minister dit deurgaans duidelik gemaak hy kan net aanbevelings maak op grond van dokumente en feite wat voor hom geplaas is. Tog het die minister, wat self erken het dat hy nie ʼn mediese dokter is nie, besluit om die aanbevelings van die paroolraad se mediese spesialiste te veto.

Dr. Mulder sê dit is jammer dat die mooi woorde en beloftes van die slotgedeelte van 1993 se interim-Grondwet hol geword het en vandag geen betekenis meer het vir die regerende ANC nie.

 

Kontaknommer: 0834195403 / 02 764 7760