Chaos in gesondheidsorg wys dat NGV nie sal werk nie

2014-11-20
Wouter Wessels

Wouter Wessels, VF Plus-LPW, het vandag tydens 'n sitting van die Vrystaatse Wetgewer in 'n lidverklaring gesê dat die huidige chaotiese toestand van die openbare gesondheidsisteem in die Vrystaat en elders in Suid-Afrika duidend van die feit is dat enige gedagte oor die implementering van 'n Nasionale Gesondheidsversekering-Skema (NGV) voortydig en onrealisties is.

Wessels het twee voorbeelde op rekord geplaas om die in duie stort van die gesondheidsisteem te illustreer.

Eerstens het hy verwys na 'n geval waar die VF Plus op 18 Julie 2014 deur die familie van 'n plaaswerker van die Harrismith-distrik gekontak is. Die man is op 15 Junie 2014 na Pelonomi-hospitaal oorgeplaas vir 'n knie-operasie. Hy het egter tot en met 18 Julie 2014 geen behandeling of operasie gekry nie. Die verpleegpersoneel van Pelonomi kon op daardie dag geen terugvoer aan die familie of pasiënt gee nie, aangesien hul besig was met Mandeladag-aktiwiteite.

Nadat die VF Plus die LUR vir Gesondheid genader het, het die pasiënt 'n week en 'n half later uiteindelik die nodige operasieprosedure ontvang.

'n Tweede voorbeeld wat op rekord geplaas is, is ten opsigte van 'n man van Bethulie wat 'n week gelede in die Smithfield-distrikshospitaal oorlede is. In hierdie geval was daar nalatig opgetree en het die man vir meer as 'n maand geen diagnose of nodige behandeling ontvang nie.

Die algehele verval van die gesondheidsisteem het 'n kritieke vlak bereik.

Die ANC-regering se drome oor Nasionale Gesondheidsversekering is dus baie gevaarlik. Die VF Plus is gekant teen hierdie tipe skema aangesien so 'n skema tot gevolg sal hê dat daar verdere druk op die openbare gesondheidsorg fasiliteite sal wees en nie as oplossing vir die huidige probleme sal dien nie.


0826746670