Brasilië en Australië wenners agv plaaswerkerstakings

2013-01-14
Dr Pieter Mulder

Wie is die wenners as ’n boikot van Suid-Afrikaanse produkte sou slaag, soos sommige vakbondleiers in die Wes-Kaap vra? Die wenners is landbouers in Brasilië en Australië wat met ons kompeteer om toegang tot die Europese en ander markte. Die verloorders is oorwegend die plaaswerkers wat met die volgende oestyd hulle werk gaan verloor as ons nie meer toegang tot daardie buitelandse markte het nie,” het dr. Pieter Mulder, Adjunk-Minister van Landbou, Bosbou en Visserye gesê. Hy was die naweek die spreker by ’n landboudag by Aldam in die Vrystaat van die Hoëveldse Bonsmaraklub.

“Die meerderheid sogenaamde stakers wat ons op televisie sien, is werklose jongelinge wat klippe gooi, misdadig optree en nog nooit op ’n plaas gewerk het nie. Dit bevestig die feit dat die huidige stakings 80% vakbondpolitiek is en maar 20% ’n landbou fokus het,” het Mulder gesê.

Om ons werkloosheidsprobleme in Suid-Afrika op te los, het ons arbeidsintensiewe nywerhede en landboupraktyke nodig. Die teenoorgestelde gaan nou gebeur.

“Die boodskap wat ek van die boere en/of landbouers reg oor die land kry, is dat dit nou tyd is om hulle afhanklikheid van plaaswerkers so ver as moontlik te beperk. In ontwikkelde lande soos die VSA en Australië, waar daar min plaaswerkers beskikbaar is, is boerdery implemente reeds so ontwikkel dat dit ’n plaaseienaar help om sonder honderde werkers klaar te kom. Een oesmasjien kan die werk van honderde werkers doen,” volgens Mulder.

In Suid-Afrika het plaaswerkergetalle reeds vanaf 1,1 miljoen in 2004 na 624 000 in 2011 gedaal. Dit is ’n daling van 46%. Hoewel hierdie ’n wêreldwye tendens is, het faktore soos grondhervorming en die algemene onsekerheid oor die toekoms van landbou gemaak dat hierdie syfer in Suid-Afrika baie hoër is as die daling in ander lande. Die verwagte verskuiwing na meganisasie na hierdie landboustakings, gaan hierdie tendens in Suid-Afrika verder verhaas.