Boodskap aan Julius Malema: Wees versigtig want rewolusionêre opstokers vind gewoonlik uit dat ’n rewolusie sy eie kinders eet

2013-10-16
Adv Anton Alberts

Die VF Plus rig 'n boodskap aan Julius Malema dat hy versigtig moet wees met sy rewolusionêre uitsprake want die geskiedenis het geleer 'n rewolusie eet gewoonlik sy eie kinders, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.

"Robespierre, 'n roekelose, bloeddorstige en magsugtige man het die vlamme van die Franse rewolusie gestook en uiteindelik aan die hoof van die Franse Republiek gestaan deur sy vyande links en regs te elimineer met die gevreesde guillotine.

“Dit was egter 'n kortstondige magsposisie, want die onbeheerste magte van die rewolusie het uiteindelik teen hom gedraai met sy kop wat toe ook onder die guillotine gerol het.

"Malema se vals uitsprake dat witmense alles wat hulle het, gesteel het, skep verder 'n 'meem' of virale gedagte wat die wêreld ingedra word en deur arm en gefrustreerde mense as feit aanvaar word en sodoende gemeenskappe op grond van ras polariseer.

Dit is juis hierdie gewoonte van Malema om minderhede, veral wittes, te demoniseer, wat die VF Plus genoop het om die registrasie van sy party by die OVK teen te staan,” sê adv. Alberts.

Adv. Alberts sê dit is waar dat Suid-Afrika geweldige verdeeldheid in rykdom het, maar hierdie verdeling is al hoe meer intra-ras georiënteerd en nie soseer tussen rasse nie. Voorts moet die ekonomiese verdeeldheid verstaan word as 'n probleem wat verkeerd deur die ANC hanteer is.

“Swart ekonomiese bemagtiging het tot dusver net 'n paar swartmense oor en oor verryk terwyl die massas verder verarm het. SEB is duidelik 'n beleid wat nie werk nie en tog het die ANC besluit om die beleid te verskerp met onmoontlike teikens wat deur die nuwe SEB-kodes gestel word.

"Regstellende aksie het op sy beurt weer die deur vir ANC-kaderontplooiing wyd oopgemaak met die gevolglike ineenstorting van dienslewering deur die staat en endemiese korrupsie wat deel geword van die samelewing.

“Malema moet gevolglik versigtig optree deur eerder sy aanvalle aan die adres van die ANC te rig en in gedagte te hou dat sy uitsprake die omgewing skep vir rasse-geweld. Dit mag dalk sy hart warm laat klop indien dit werklik gebeur, maar uiteindelik sal die vlamme van die rewolusie hom ook verdelg. Uiteindelik is daar geen oorwinnaar nie.

“Daarom sal die VF Plus verdere stappe oorweeg indien Malema voortgaan met sy vals en polariserende uitsprake,” sê adv. Alberts.

 

Adv. Anton Alberts

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403