Bloemfontein se onaanvaarbare waterpenarie

2014-01-16
Die Redaksie

Die Vryheidsfront Plus dring daarop aan dat die Mangaung Metro Munisipaliteit onmiddellik die watervoorsiening van Bloemfontein as ‘n nood-prioriteit verklaar en ‘n aksieplan aktiveer om die waterprobleem daadwerklik aan te spreek en op te los.

Dit is onaanvaarbaar dat die munisipaliteit slegs reaktief optree en elke keer wat daar ‘n onderbreking van watertoevoer is, slegs nood herstelwerk doen.

Daar is fondse beskikbaar om die baie ou en nie-werkende pompe by Maselspoort te vervang.  Volgens dr Elizabeth Snyman-van Deventer, VF Plus Raadslid in Mangaung Metro Munisipaliteit, wanbestee die munisipaliteit fondse en word hierdie noodsaaklike vervangingswerk nie gedoen nie.

Volgens Snyman-van Deventer is die algehele gebrek aan ‘n gefokusde plan om die volgehoue verskaffing van water aan al die inwoners van Mangaung te verseker, betreuenswaardig.

Die voortdurende onderbreking aan watertoevoer wat veral die suidelike woonbuurte in die verlede geteister het, is nou die nagmerrie van die noordelike voorstede.  By verskeie voorstede, onder andere Pentagonpark, Kiepersol, Heuwelsig en Dan Pienaar is daar weer vandag wateronderbrekings.

Hierdie onderbrekings is weer as gevolg van een van die pompe by Maselspoort wat buite werking is.  Dit het veroorsaak dar daar minder as 45kl in die reservoir wat water aan hierdie voorstede voorsien is.

Die VF Plus het tot op die hoogste vlak navrae in hierdie verband gerig en is tans in samesprekings om die munisipaliteit tot verantwoording te dwing.

Die VF Plus maak ook seker dat daar watertenks in hierdie geaffekteerde areas geplaas word en sal inwoners op hoogte hou.

 

Elizabeth Snyman-van Deventer

VF Plus Stadsraadslid: Mangaung Metro Munisipaliteit

082 305 1504