Bloemfontein kry voorafbetaalde meters

2015-10-27
Die Redaksie

Johan Powell, raadslid van die Vryheidsfront Plus in die Mangaungmetro, sê dat die VF Plus verheug is dat die metro en Centlec beoog om alle bestaande ou elektrisiteit- en watermeters met voorafbetaalde meters te vervang. Die VF Plus is al vir jare besig om die voordele van voorafbetaalde meters by die metro tuis te bring. Hierdie meters hou nie net voordele vir die publiek in nie, maar ook vir die metro.

Talle voorafbetaalde elektrisiteitsmeters is reeds in die metro aangebring en die terugvoer wat vanaf die publiek verkry word, is baie positief. Hierdie meters stel die publiek in staat om hulle verbruik te monitor en hoef hulle ook nie meer rekeninge vanaf die metro te ontvang nie.

Hierdie rekenings het in die verlede groot ongelukkigheid by die inwoners veroorsaak omdat lesings soms nie geneem is nie en dan moes betaal vir lesings wat geskat is. Foutiewe rekenings het groot frustrasie vir die inwoners meebring.

Hierdie nuwe meters kan baie gemoedsrus vir die inwoners van die metro meebring. Die enigste nadeel vir die inwoners is dat hulle nou vooruit moet betaal vir hierdie dienste terwyl die rekenings ook betaal moet word van die dienste wat hulle reeds ontvang het. Inwoners wat nie finansieel in staat is om vir die voorafbetaalde elektrisiteit te betaal nie en ook nie die rekening nie, kan die nodige reëlings met die metro tref om die rekening oor ʼn tydperk af te betaal.

Powell sê dat die voorafbetaalde meters vir die metro en Centlec geweldige voordele inhou. In die eerste plek sal hulle nou hulle geld vooruit ontvang waar hulle met rekenings dit twee of drie maande na die verbruik eers ontvang het. Hulle het ook nie meer nodig om lesings te neem en rekenings uit te stuur nie. Net dit alleen kan vir hulle miljoene rande bespaar. Die feit dat wanbetaling grootliks hierdeur uitgeskakel word, is tot voordeel van die metro en al die inwoners, as in ag geneem word dat die bedrag wat aan die metro verskuldig is vir dienste wat hulle reeds gelewer het bykans R3,5 miljard beloop.

Die VF Plus versoek die metro en vir Centlec om hierdie projekte so spoedig as moontlik aan te pak en af te handel omdat dit tot voordeel van almal in die metro is.

 

Johan Powell

083 264 2741