Bewerings van politieke inmenging in SA se wêreldbekerspan skok en moet beantwoord word

2015-03-30
Adv Anton Alberts

Bewerings in die Business Day Live vandag dat daar politieke inmenging was in die samestelling van Suid-Afrika se span vir die halfeindstryd teen Nieu-Seeland, is skokkend en Krieket Suid-Afrika sal hierop moet antwoord, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor sport.

Luidens die berig het AB de Villiers selfs gedreig om nie in die wedstryd te speel nie nadat Vernon Philander, wat weens ʼn vroeëre besering nie op top-vorm was nie, in die span geplaas is ten koste van Kyle Abbot.

Adv. Alberts sê dit is werklik betreurenswaardig dat ʼn skitterende speler soos Philander nou die middel geword het van ʼn onsmaaklikheid wat die oorsaak is van die ANC-regering se bedenklike beleid van kwotas in sport.

“Hy is ʼn jong man, en so ʼn voorval kan ʼn groot invloed op sy toekoms as sportman hê. Maar dieselfde kan van Abbot gesê word. Kwotas dryf opkomende sportsterre uit die land en vernietig ander se drome en ideale.

“Op provinsiale vlak word daar selfs al gepraat van ses spelers van kleur wat in krieketspanne ingesluit moet word. Dit is ongetwyfeld net ʼn kwessie van tyd voordat die ANC sal aandring op agt om net etniese swart spelers volgens die nasionale demografie te akkommodeer.

“Dit raak al hoe moeiliker om in te sien hoe jong wit en bruin spelers hulself kan motiveer om na die boonste sport op die sportveld te mik indien die geleenthede al hoe minder raak,” sê adv. Alberts.

Intussen is die VF Plus besig om skrywes te finaliseer wat uitgestuur gaan word na die belangrikste internasionale sportorganisasies met wie Suid-Afrika betrekkinge het, asook na die ambassadeurs van hierdie lande in Suid-Afrika.

“Die VF Plus wil die rassisme in Suid-Afrikaanse sport onder die deurskynende dekmantel van ‘kwotas of teikens’ uitlig, en wil die lande en organisasies vra of hulle rassisme in sport enigsins goedkeur,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403