Bewerings dat VF Plus ʼn DA-vergadering ontwrig het, is onwaar wys video

2016-02-26
Adv Anton Alberts

Bewerings van die DA dat die VF Plus ʼn wykskomiteevergadering in Midvaal ontwrig het, is kwaadwillig en onwaar, en die VF Plus het videomateriaal om dit te bewys, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se leier in Gauteng.

https://www.youtube.com/watch?v=4IBpd-82pis

Volgens adv. Alberts het ʼn aantal VF Plus-lede vooraf kennis gegee dat hulle die vergadering (afgelope Woensdag, 24 Februarie) sou bywoon om pertinente vrae oor onder meer geldverkwisting van die raad aan die burgemeester, Bongani Baloyi, te vra.

Die vrae het gehandel oor ʼn hoëvlak-afvaardiging van DA-raadslede aan Kenia, die koste en noodsaaklikheid daarvan, asook oor beleidsuitsprake van die burgemeester wat met die van die DA-leier, Mmusi Maimane, verskil rakende regstellende aksie.

In vraetyd het ʼn lid van die VF Plus aan Baloyi gevra waarom sy uitsprake oor beleid met die van Maimane verskil. Verskeie tussenwerpsels is daarop gevolg, en die vraag is nie beantwoord nie. Baloyi het die VF Plus-lede daarop gevra om die saal te verlaat.

Die lede het egter aangedring op ʼn behoorlike antwoord, en het ook gevra of die burgemeester kennis dra van die koste van ʼn DA-afvaardiging na Kenia, en of hy die verkwisting goedkeur.

Die burgemeester het gesê hy dra nie kennis van die koste van die reis nie, en het gesê die doel van die reis was ʼn ‘uitruiling van idees’. Hy is toe daarop gewys dat hy die koste van die reis in die raad se finansiële state sou vind.

Adv. Alberts sê die VF Plus-afvaardiging het die uitgawes gekritiseer in die lig van noodsaaklike infrastruktuur-gebreke en maatskaplike probleme in Midvaal. Die saal is daarna verlaat.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403