Beweerde geheime regeringsverslag oor gratis hoër onderwys moet bekend gemaak word

2015-10-26
Adv Anton Alberts

Die VF Plus het vandag ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting gevra dat ʼn verslag oor die haalbaarheid van gratis naskoolse onderwys, wat luidens ʼn mediaberig in die besit van dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys is, bekend gemaak word.

Adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor hoër onderwys, sê luidens ʼn berig in die Mail & Guardian het die minister reeds in 2010 ʼn werkgroep aangestel om die moontlikheid van gratis hoër onderwys te ondersoek.

Die verslag is glo in 2012 voltooi en is in Desember van daardie jaar aan minister Nzimande oorhandig. Van die akademici wat gehelp het met die opstel van die verslag, sê luidens die berig dat die verslag dit duidelik maak dat gratis hoër onderwys wel haalbaar is.

Adv. Alberts sê die VF Plus wil die verslag om die volgende redes hê:

  • Die ondersoek na die koste van universiteitstudies moet deursigtig en realisties plaasvind. ʼn Moontlike verslag hieroor word geheim gehou en verdien openbaarmaking;
  • Die VF Plus wil, indien die verslag wel bestaan, weet waarom minister Nzimande dit teruggehou het terwyl die ANC reeds in 2007 gratis onderwys belowe het. Dit is vir die VF Plus duidelik die ANC maak ʼn gewoonte daarvan om vals beloftes te maak ter wille van stemme. Minister Nzimande moet verantwoordelikheid neem vir dié vals beloftes van die ANC;
  • Enige persepsie dat geheime gehou word, kan die studenteprotes weer laat opvlam en laat eskaleer tot hoër en gevaarliker vlakke.

Adv. Alberts sê die VF Plus wil dit benadruk dat indien gratis onderrig ʼn werklikheid word, dit nie ʼn gerieflike paspoort na geldvermorsing en onderprestering moet wees nie.

“Daar moet streng riglyne en kriteria in plek wees sodat studente deeglik moet besef hulle gaan nie toegelaat word om die belastingbetaler se geld te mors nie. Daar moet onder meer gereelde en deeglike assessering plaasvind tesame met ʼn afsnypunt waar ʼn student duidelik onderpresteer.

“Ons wil dit duidelik maak prestasie die enigste maatstaf moet wees,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403