Betogers bedreig Wesrand-inwoners se veiligheid

2014-01-23
Die Redaksie

Die betogings oor swak dienslewering in Krugersdorp en Roodepoort bedreig onskuldige inwoners en padgebruikers se veiligheid, terwyl hulle menseregte geskend word, sê Amanda de Lange, VF Plus-raadslid in Mogale City en mediawoordvoerder in Gauteng

Volgens berigte is talle inwoners, wat nie betrokke is by die oproerigheid nie, se huise bestorm deur betogers en moes baie inwoners vlug na veiligheid.  Verskeie besigheidspersele is beskadig en heelwat staatseiendom is verwoes in die heersende geweld.

Minister van Binnelandse Sake, Naledi Pandor, het die polisie gemaan om nie met geweld teenoor die betogers op te tree nie en noem verder dat ‘die betogers hulle regte uitoefen’. 

In kommentaar daarop het De Lange genoem dat die Minister se hantering van die saak verregaande is.  “Minister Pandor misken die regte van inwoners en padgebruikers deur in die bres te tree vir die misdadigers terwyl sy geen melding maak van die regte van die publiek wat in lewensgevaar verkeer nie.”

Sy sê wetsgehoorsame Suid-Afrikaners is moeg daarvoor om in vrees te leef wanneer dienslewering-geweld uitbreek. “ Terwyl ons land brand, maak die ANC net leë beloftes met katastrofiese gevolge.  Die land se ekonomie, dus elke burger wat hier woon en werk, ly op welke manier onder die voortgesette stakings en betogings.”

Die Vryheidsfront Plus sê die ANC-regering moet ophou om wegkruipertjie met kiesers te speel en moet eerder daarop fokus om diensleweringsbeloftes na te kom.

 

Amanda de Lange

Vryheidsfront Plus Gauteng :  Media Woordvoerder

Kontak :  071 604 9498