Bernadine Kruger-kruisplanting: ’n Monument vir alle padslagoffers

2014-03-18
Adv Anton Alberts

Die Vryheidsfront Plus het vandag ‘n kruis geskenk aan die ouers van Bernadine Kruger tydens ‘n kruisplanting-seremonie gehou in Pretoria-Oos naby die plek waar Bernadine vyf jaar gelede deur ‘n taxi doodgery is. “Die kruis is geplant ter nagedagtenis van die onnodige afsterwe van Bernadine en staan ook nou as ‘n monument vir al die mense wat op so ‘n onnodige wyse hulle lewens verloor tydens padongelukke,” het adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer, gesê.

Die VF Plus het destyds gevra dat die betrokke taxibestuurder eerder van moord aangekla word as strafbare manslag weens die opset wat hy gehad het om Bernadine met die taxi te stamp. Die staatsaanklaer het later die klag na moord verander en hy is inderdaad ook daaraan skuldig bevind.

Die VF Plus het saam met Bernadine se moeder, me. Elsabe Homann, ‘n beroep gedoen op bestuurders om meer verdraagsaam op die paaie te wees, aangesien ‘n lewe binne ‘n ommesientjie uitgewis kan word.

Verder het die adv. Alberts ‘n beroep op die verkeersowerhede gedoen om hulle eie vredesbeamptes beter op te lei en polisiëring sigbaar te verskerp.

Laastens het adv. Alberts ook beklemtoon dat AARTO afgeskaf moet word omdat dit verkeersowerhede eerder laat fokus op geldinsameling in plaas van streng polisiëring deur middel van die Padverkeers- en Strafproseswet.

 

Kontaknommers: 082 391 3117