Beleggers stel nie belang in ʼn land waar die ANC eerste gestel word nie

2015-11-17
Adv Anton Alberts

Dit raak toenemend duidelik dat beleggers nie daarvoor kans sien om hul geld te belê in ʼn land waar ʼn korrupte politieke party sy eie belange bo dié van die land stel nie,” sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.

Adv. Alberts het in reaksie op die Tweede Lesingsdebat oor die Wetsontwerp oor die Bevordering en Beskerming van Beleggings, gesê dit is onverstaanbaar dat pres. Jacob Zuma, soos sy minister van handel en nywerheid, dr. Rob Davies, geen ag slaan op die waarskuwingsligte oor beleggerswantroue wat bloedrooi flikker nie.

Hy sê ander lande doen als in hul vermoë om beleggers te lok. Suid-Afrika doen die teenoorgestelde en rol klippe in beleggers se pad.

Volgens adv. Alberts was die VF Plus een van die rolspelers wat die regering deurentyd op ʼn sinvolle manier gewys het op die gevare wat die wet sal inhou, en die skade wat dit aan die land se ekonomie sal aanrig.

Twee maande gelede het Suid-Afrika se handelsvennote in Amerika en die Europese Unie openlik en ondiplomaties aan die regering gesê beleggingsvertroue in die land is ‘op sy laagste ooit’ en dat die ‘eerste’ voorval van onteiening die einde van beleggings in Suid-Afrika sal beteken.

Dié harde woorde het twee maande gelede geval met die openbare verhoor by die parlementêre portefeuljekomitee vir handel en nywerheid oor die wetsontwerp en het gekom uit voorleggings van die Amerikaanse Nywerheidskamer (NPC)- en die Europese Kamer van Handel en Nywerheid in Suid-Afrika (EUCCISA).

Daar is reguit oor die beoogde wet gesê nieteenstaande die ANC se beloftes dat buitelandse beleggings in Suid-Afrika beskerm sal word, blyk dit of die wet die teenoorgestelde ten doel het.

Adv. Alberts sê dit is duidelik dat die ANC geen ag hoegenaamd op hierdie vermanings geslaan het nie, en hardkoppig probeer om die wetsontwerp deur te voer.

“Die ironie in pres. Zuma se uitlating dat die ANC voor Suid-Afrika gestel word, is dat beleggers dit presies op dié manier sien. Hulle sien die ANC is van mening dat beleggings nie ten bate van Suid-Afrika nie, maar om die ANC te verryk.

“Boonop blyk dit al hoe meer dat beleggers nie net huiwerig is om te belê nie, hulle is aktief besig om hul geld aan Suid-Afrika te onttrek in die vorm van onder meer fondsbeleggings en aandele. Dit is een van die redes waarom die rand so swak vaar.

“Suid-Afrika staan werklik ʼn tree weg van sy fiskale afgrond. Beleggings verdamp en skuld en rente hoop op. Om sy opgeblase staatsdiens en 18 miljoen afhanklikes van staatstoelaes tevrede te hou, sal daar meer gevat moet word van die handjievol belastingbetalers.

“Hierdie situasie sal nie onbepaald kan voortduur nie. Mense van alle gemeenskappe draai al hoe meer na die VF Plus om leiding en antwoorde. Die ANC dink dalk hy kom eerste, maar die mense van Suid-Afrika sal by die stembus gaan sê wie hulle dink die belangrikste is,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403