Bekendmaking van ledebelange wys verstommende vinnige pad na rykdom van ANC-regeringskliek

2014-09-19
Adv Anton Alberts

Nie sedert die ontstaan van die Boererepublieke, die SA Unie en later die Republiek van Suid-Afrika het regeringsleiers hulself so vinnig verryk soos mense in die dampkring van die ANC-regering tans doen nie, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor finansies.

Die media berig vandag wyd oor die parlementêre register van ledebelange waaruit dit blyk dat ʼn kultuur onder pres. Jacob Zuma in die party gevestig is om vrae oor sensitiewe onderwerpe te vermy of te systap deur dit nie te beantwoord nie.

Die doel van die register is om die publiek insae te gee in parlementslede se finansiële belange en eiendom om deursigtigheid te bevorder.

Van die kwelpunte wat aan die lig gekom het, is die aandeel van tot 50% van adv. Ngoako Ramathlodi, minister van minerale hulpbronne, in mynmaatskappye (Beeld, 19 September 2014).

Baleka Mbete, speaker van die nasionale vergadering, het volgens die register sowat R25 miljoen se aandele in Rich Cove Investments (Pty.) Ltd. asook nagenoeg R2 miljoen se aandele in Turncard Trading (Pty.) Ltd.

Dié twee maatskappye is glo deel van ’n SEB-transaksie met die mynmaatskappy Goldfields wat toe mynregte vir die South Deep-myn gekry het. Die Valke ondersoek glo dié bemagtigingstransaksie.

Adv. Alberts sê benewens Cecil John Rhodes met sy imperiale kabaal, het nog geen klein groep mense in die land se lang vormingsgeskiedenis sedert 1652, so vinnig so ryk geword soos die ANC-binnekring nie.

“Gegewe die hoë vlak van armoede in Suid-Afrika is hierdie bevoordeling bloot omdat iemand 'n hooggeplaaste ANC-kaartdraer is en dus invloed het by die uitdeling van lakens deur die staat, immoreel en behoort die ANC hom te skaam.

“Natuurlik maak beleid soos SEB dit nog makliker om te skep sonder dat individue noodwendig die vermoëns het om die poste te beklee of dit andersins verdien behalwe vir die invloed waaroor hulle beskik.

“Dit word duidelik uitgewys deur die verklaring van belange deur parlementslede. Die VF Plus het reeds 'n parlementêre vraag ingedien om vas te stel hoeveel parlementslede deur SEB bevoordeel is,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403