Bejaardes eis met optog: Betaal terug die Transnet-pensioenarisse se geld

2015-03-30
Adv Anton Alberts

Die mense wat werklik kan aanspraak maak op die slagspreuk ‘betaal terug die geld’, die pensioenarisse van Transnet, het vanoggend na die Uniegebou in Pretoria gestap om te eis dat hul omstandighede onmiddellik en ingrypend verbeter terwyl die hofgeding teen Transnet en die staat aan die gang is.

Adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer, wat op aandrang van die pensioenarisse die optog gehelp organiseer het, sê sowat 250 bejaardes van alle bevolkingsgroepe het in ʼn gebaar van solidariteit deelgeneem en ʼn memorandum is aan die kantoor van pres. Jacob Zuma oorhandig.

Die optog was die idee van die swart pensioenarisse en van hulle het groot moeite gedoen om van tot so ver as Louis Trichardt na Pretoria te reis.

Die eis van bykans R80 miljard, die grootste siviele eis in Suid-Afrika, se regsgeskiedenis, is nou die onderwerp van ʼn hofgeding.

Volgens adv. Alberts het mense van tot ouer as 90 deelgeneem. ʼn Persoon van 91 het op pad ineengestort en is deur paramedici gehelp. Nog ʼn pensioenaris van 92 wat aan ʼn rolstoel gekluister is, was ook teenwoordig.

“Hierdie vertoon van eenheid sou dit vir die president duidelik gemaak het dat swart en wit ewe hard deur die vermorsings van hul pensioengeld getref is en dat daar geen empatie van die staat se kant is vir die mense wat die spoorwegstelsel oor baie dekades gehelp opbou het nie.

“Van die VF Plus se kant sal ons seker maak die president gee aandag aan die dokument en sal hom vra om daarop te reageer.

“As daar iemand is wat werklik rede het om te eis dat hul geld terugbetaal moet word, is dit hierdie mense wat jare al onnodiglik onder die uiterste armoede gebuk gaan,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403