Begrotingstoespraak: Pravin Gordhan sit tussen twee vure

2014-02-26
Dr Pieter Mulder

Minister Pravin Gordhan se begrotingstoespraak moet as deel van die ANC se verkiesingsveldtog beoordeel word. Hy het oor die verlede gespog en baie geld uitgedeel in ’n duidelike poging om ’n positiewe klimaat vir kiesers voor die verkiesing te probeer skep.

Die werklike toets gaan lê in die beoordeling van die kredietgraderingsmaatskappye wat die detail van die begroting sal bestudeer. Hulle sal bepaal of hy daarin geslaag het om, tussen die gelduitdeelbeloftes deur, die fiskale dissipline wat die land nodig het, te behou.

Suid-Afrika het ’n groeikoers van 5% nodig om genoeg werk te skep en uit die ekonomiese moeilikheid te kom. Die minister het ’n groeikoers van 3% voorspel en moes toegee dat dit slegs 2,7% vanjaar gaan wees. Dit terwyl die groeikoers in Afrika gemiddeld tot 6% is. Duidelik skort iets groots in die Suid-Afrikaanse ekonomie en moet die minister die fout by die arbeidsonrus en onbuigsame arbeidswette gaan soek.

Die VF Plus verwelkom die maatreëls wat aangekondig is om die vestiging van klein- en medium- sakeondernemings te bevorder. Hierdie ondernemings kan tot 60% van alle nuwe werksgeleenthede skep as hulle nie deur onbuigbare arbeidswette en rompslomp verhinder word nie.

Volgens die ANC is tot R179 miljard nodig om die nuwe grondeise wat nou verwag word, te finansier. Die ongeveer R7 miljard wat vir grondhervorming begroot word, is heeltemal te min daarvoor. Dit bevestig die VF Plus se kritiek dat hier verwagting gewek word wat nie nagekom kan word nie. Dit is die tipe besluite wat later tot gewelddadige protes lei.

Dit is belangrik dat die belastingbasis verbreed moet word aangesien sowat 3 miljoen mense tans sowat 96% van die belasting betaal terwyl daar 51 miljoen mense in die land is. Geen pogings om hierin te slaag nie, is aangekondig. Dit skep ’n onhoudbare situasie waar hierdie belastingbetalers voos belas word en die ekonomie nie groei nie.

“Ek sal die minister ‘n punt van 7 uit tien vir die jaar se werk gee, maar sal soos die juffrou op sy rapport skryf: ‘Jannie kom uit baie moeilike huislike omstandighede. Hy presteer goed as jy dink waar hy vandaan kom met kollegas wat geld mors en vakbonde wat droogmaak,” sê dr. Mulder.

 

Kontaknommers: 082 674 6670 / 083 419 5403