Basiese onderwys is ʼn ontvouende tragedie

2016-01-06
Adv Anton Alberts

Die Vryheidsfront Plus is weer korrek bewys oor die lae standaarde en tragiese stand van die basiese onderwysstelsel. “Die feit dat minder matriekleerlinge hierdie jaar geslaag het ten spyte van die uiters lae slaagperk in vakke en Umalusi se opwaartse aanpassing van 30 uit 59 vakke, is tekenend van die ontvouende tragedie van die basiese onderwysstelsel,” het adv. Anton Alberts, VF Plus parlementêre woordvoerder oor basiese onderwys, gesê.

“Die slaagsyfer het nou al vir die afgelope twee jaar gedaal. Dit is wel waar dat meer leerlinge in hierdie jaar matriekeksamen geskryf het, maar die sogenaamde prestasie moet gemeet word teen die uitvalsyfer van leerlinge oor die jare heen. Dit blyk dat 50% minder leerlinge matriek skryf as dié wat aanvanklik skool begin het,” het Alberts verder verduidelik.

ʼn Groot deel van die hoë uitvalsyfer van leerlinge kan voor die deur gelê word van die gebrek aan moedertaalonderrig in die beginfase van leerlinge se skoolloopbane. Leerlinge probeer moeilike vakke baasraak in Engels wat nie hulle moedertaal is nie.

“Daar is hopeloos te min skole wat in moedertaal onderrig en dit maak talle leerlinge moedeloos. Dit is wel bekend dat moedertaalonderrig in die grondslagfase van skoolonderrig die beste instrument is om leerlinge toe te laat om basiese konsepte in wiskunde, wetenskap en ander moeilike vakke te bemeester. Tog word hierdie feit ondergeskik geag aan politieke ideologie waarin Engels verhoog word tot die taal van bemagtiging terwyl dit nie eens die meeste mense in Suid-Afrika se tweede taal is nie. Die Gautengse LUR vir basiese onderwys, Lesufi, is ʼn sprekende voorbeeld van iemand wat die dwaling uitleef tot nadeel van die meeste leerlinge in sy provinsie.”

Die VF Plus beskou die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysunie (SADOU) se inmenging in die werksaamhede van onderwysers deur die aanmoediging van stakings en die skep van ʼn algemene swak werksetiek as ʼn verdere probleem. SADOU se vlerke sal geknip moet word indien die minister van basiese onderwys enige vordering wil maak in die verbetering van die onderwysstelsel.

Die swak kurrikulum en standaarde sal ook daadwerklik aangespreek moet word. Dit is skreiend dat Suid-Afrika weer amper heel laaste geplaas is wanneer dit by prestasie in wiskunde en wetenskap kom.

Die wanbestuur van basiese onderwys deur die ANC het tallose jongmense se toekoms in gedrang geplaas.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403