Baie werk lê voor om Snoerwet te keer

2013-11-12
Adv Anton Alberts

Die siniese aanhaling  van George Orwell uit sy boek ‘1984’ dat vryheid gelykstaande is aan slawerny, is vining besig om te realiseer in Suid-Afrika, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor kommunikasie.

Hy sê die regerende elite kan – volgens die ANC - net vry wees indien die massas deur middel van manipulasie onderdruk word, soos dit uit Orwell se boek blyk. Transformasie het in Suid-Afrika die instrument geword waarmee dit grootliks gedoen word.

Die wetsontwerp het daarom ‘n baie sentrale plek in die proses van sosiale manipulering in die land. In Orwell se boek is Big Brother se gunsteling instrument die vermoë om alle vorme van inligting, uitdrukking en identiteit te kan beheer.

“In ons eie ‘1984’ sien ons ‘n wet wat presies dit weerspieël deur die moontlikheid te skep om ‘n gemeenskap deur die beheer van inligting te manipuleer en sodoende die Grondwet te ondermyn deur die regte van vryheid van spraak en inligting van die land se inwoners te vervreem.

“Die ANC se bewindsoorname in 1994 het effektiewelik Suid-Afrika se 1984 geword.

“Die feit dat die wetsontwerp soveel keer gepaneelklop moes word vanweë die opposisie se kommer is juis getuienis dat die ANC nie die onskuldigste van bedoelings daarmee gehad het nie.

“Hierdie wetsontwerp het die opposisie, die burgerlike samelewing en selfs stoere ANC-ondersteuners soos adv. George Bizos, saamgesnoer teen die ANC. Dit is alleen ook hierdie nuwe opposisie wat die ANC laat afsien het van verskeie drakoniese klousules.

“Hoewel baie van die veranderings aangebring is deur die harde werk van mede-parlementslede lê groot werk nog voor om die inwerkingstelling van die wetsontwerp te keer.

“Die toekoms hoef nie soos die verlede of hede te wees nie. Dit kan beter. Een ding is egter seker, en dit is dat daar ‘n deurlopende stryd met die ANC gevoer sal moet word om dit te vermag,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403