As Cyril Ramaphosa kommersieel kan vlieg, kan pres. Jacob Zuma ook

2015-11-10
Dr Pieter Groenewald

Die aankoop van ʼn luukse langafstand vliegtuig vir pres. Jacob Zuma is totaal onnodig en ʼn vermorsing van die belastingbetaler se geld, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor verdediging.

Dr. Groenewald sê ʼn goedkoper straler kan ʼn verafstand-reis na bestemmings soos Beijing in twee skofte aflê en dit veroorsaak gewis nie ʼn veiligheidsrisiko nie.

Hy sê daar moet deeglik dopgehou word watter luukshede vir die beoogde presidensiële straler beplan word aangesien dit die items is wat die koste skerp sal laat toeneem. Slaapkamers en sitkamers hoef byvoorbeeld nie onnodig luuks te wees nie.

“Indien die vliegafstande ver is, moet dit ernstig oorweeg word om van kommersiële lugdienste gebruik te maak. As adjunkpresident Cyril Ramaphosa dit kan doen, kan pres. Zuma ook,” sê dr. Groenewald.

Volgens dr. Groenewald het hy reeds ʼn parlementere vraag aan die minister van verdediging gerig waarin gevra word hoeveel geld begroot word vir die vliegtuig en uit watter rekeninge die aankoop gefinansier gaan word indien daar wel voortgegaan gaan word met die aankoop daarvan.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403