Arbeidswette soos beoogde Wet op Gelyke Indiensneming kan SA se ekonomie onherstelbaar beskadig

2013-10-24
Dr Pieter Groenewald

Meriete en nie die kleur van ‘n mens se vel nie, moet die kriteria wees wanneer mense in diens geneem word. Suid-Afrika benodig die beste gekwalifiseerde arbeidsmag om die ekonomie te laat groei. Hierdie wetsontwerp bewerkstellig die teenoorgestelde, en anders as die ANC en DA wat dit ondersteun, is die Vryheidsfront Plus gekant teen striemende arbeidswette soos die Wetsontwerp op Gelyke Indiensneming wat die land se ekonomie onherstelbare skade kan aanrig, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se parlementêre leier.

Dr. Groenewald het met die tweede lesingsdebat van die beoogde wet in die parlement gesê die wetsontwerp is ‘slegte nuus’ vir die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) en die land se ekonomie aangesien dit voornemende beleggers sal afskrik.

Hy sê die VF Plus glo daar moet ‘n balans wees tussen die belange van die werkgewer en die werknemer, maar dat die wetsontwerp hoofsaaklik die belange van die werknemer in ag neem.

“Hoe kan dit regverdig en billik wees indien ‘n beskuldiging van diskriminasie teen ‘n werkgewer gemaak word, die bewyslas op die werkgewer moet wees om die teendeel te bewys? Dit is totaal onaanvaarbaar.

“Die vakbondwese in Suid-Afrika se belange word so hoog geag dat dit die ekonomie van die land geweldige skade aandoen. Die wanbalans is nie in belang van die land nie. Die ANC en DA se ondersteuning van die wetsontwerp is verkiesingspraatjies om indruk op die massas te maak.

“Ek wil vir hulle sê jy kan nie die armes ryk maak deur die rykes arm te maak nie. Ons moet die regte balans kry, want as ons dit het, sal ons die ekonomie van Suid-Afrika kan bou,” het dr. Groenewald gesê.

Oor ‘n moontlike einde aan regstellende aksie het dr. Groenewald gesê dit is byna 20 jaar na die bewindsoorname deur die ANC, en arbeidswette wat beleid soos regstellende aksie daar stel, het veroorsaak dat die ‘son byna gesak het’ oor die ekonomie van Suid-Afrika.

“Die VF Plus sal dit nooit ondersteun nie. Indien u regtig omgee oor die ekonomie van Suid-Afrika, het ons nie wette soos hierdie nodig nie.

“Wat ons nodig het, is die beste mense vir die beste werk. Laat meriete die kriterium wees, nie die kleur van jou vel nie. Indien dit nie gebeur nie, sal die son gewis sak oor die ekonomie van Suid-Afrika,” het dr. Groenewald gesê.

 

Dr. Pieter Groenewald

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403