Arbeid se beheptheid met ras benadeel juis die armstes in SA

2015-05-07
Adv Anton Alberts

 

MEDIAVERKLARING

Beheptheid met ras is een van die groot remskoene in die land se arbeidsomgewing wat ekonomiese groei kniehalter, en dit benadeel juis die armes en werkloses in toenemende mate, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor arbeid.

Adv. Alberts het vandag met die departement se begrotingsposdebat in die parlement gesê die oogmerke van die departement, soos ekonomiese groei en werkskepping, is edel. Die metodes waarmee dit bereik moet word, is egter teenproduktief en bereik net die teenoorgestelde.

Hy het sy toespraak begin deur te sê soos Britse kiesers vandag verkiesing hou om ʼn nuwe regering te kies, dink hy terug aan Margaret Thatcher se beroemde slagspreuk: “Labour is not working”. “Vandag kan ek ook sê die ANC werk nie want sy beleid ondermyn werkskepping,” sê adv. Alberts.

Hy sê tegniese knelpunte weens onbevoegdeheid, wat ook terugherlei kan word na beleid soos onbevoegde kaderaanstellings, veroorsaak baie probleme soos gesien kan word in die bestuur van die Vergoedingsfonds waar sommige eise na tien jaar nog hangende is.

Die praktyk van die fonds om sy eie mediese kundiges te gebruik om voortdurend die verslae van eisers te verwerp, lei tot groot frustrasie en werk-opeenhoping en moet ondersoek word, sê adv. Alberts.

“Daar is ook probleme met die bestuur van werkloosheidsversekeringeise. Die aanlyn UFiling-stelsel skep groot verwarring. Werkgewers is byvoorbeeld nie behoorlik gewaarsku dat ʼn nuwe stelsel gebruik moet word nie, en die meeste werkgewers is blykbaar steeds nie geregistreer nie.

“Daar is boonop ʼn tekort aan personeel met die gevolg dat werklose mense uiteindelik moed opgee en hul regmatige eise laat vaar. Duisende Rustenburgse mynwerkers wat hul werk verloor het, kan nou al vir maande nie eis nie weens die administratiewe gemors. Dit verdien onmiddellike aandag.

“Ten derde is dit kommerwekkend om te verneem dat die nuutste Grant Thornton International Business Report aantoon dat ʼn skrikwekkende 81% van besighede in die land die afgelope kwartaal deur gebrekkige elektrisiteit- en watervoorsiening geraak is.

“Die gesloer met die voltooiing van die Medupi-kragsentrale weens arbeidsonrus is om dié rede des te meer onrusbarend. Die VF Plus wil ʼn dringende versoek aan die minister rig om in te gryp in die situasie.

“Die Wet op Arbeidsverhoudinge behoort gewysig te word sodat werknemers wat betrokke is by die bou van strategiese infrastruktuur, nie onder die betrokke wet val nie en gereguleer word tot voordeel van die land.

“Dit is ook belangrik dat die Wet op Gelyke Indiensneming hersien moet word in verhouding tot elke persoon se grondwetlike reg op gelykheid. Aanstellings word volgens kleur en nie op grond van bevoegdheid nie, gedoen.

“Die minister moet verduidelik wat gaan by die reeds wankelende Eskom gebeur wanneer nog ʼn duisend geskoolde werkers afgedank gaan word net omdat hulle wit is. Is hierdie dolle najaag van demografiese teikens belangriker as die land se ekonomie?

“Ten laaste wil ek die minister wys op belangrike gesprekke wat die VF Plus met wyle minister Collins Chabane gevoer het oor die staatsdiens waar die swart personeel-teiken nou reeds oorskry is. Dit moet reggestel word deur meer wit en bruin aanstellings.

“Hierdie gesprek moet met die arbeidsminister hervat word sodat gelykheid en kwaliteit die gemene deler in die werkplek word om aan almal gelyke geleenthede te besorg,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403