Anglo American se onttrekking weens stakings kan platinummyne in duie laat stort en Rustenburg in ’n spookdorp laat ontaard

2014-04-14
Adv Anton Alberts

Anglo American se uitsprake (volgens vandag se Business Day) dat hy ontslae wil raak van sy Rustenburgse platinummyne is uiters onheilspellend en toon duidelik dat die mynreus nou genoeg gehad het van die 3 maandelange staking wat verwoestend inwerk op Suid-Afrika se ekonomie, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.

Volgens adv. Alberts is dit reeds op plaaslike vlak duidelik hoeveel skade die staking aangerig het en volgens die plaaslike media en sakemanne is die dorp op die glybaan na totale verval met sakeondernemings wat in groot getalle sluit en misdaad wat weens werkloosheid skerp toeneem.

Hy sê Amplats, Impala Platinum and Lonmin, die wêreld se drie grootste verskaffers van platinum, het landwyd reeds R12,6 miljard weens stakings verloor en werkers het as gevolg daarvan reeds sowat R5,6 miljard aan salarisse verloor.

“Koerante in Rustenburg berig daar het reeds 83 sakeondernemings gesluit in en om die dorp, en volgens sakelui speel dieselfde situasie hom moontlik af by al die myndorpe in Suid-Afrika wat deur stakings geraak word.

“Sakemanne meen dat ondernemings wat ondergaan, bydra tot die groot werkloosheidsprobleem op die dorp. Van die sakemanne sê dat hul inkomste met tot 40% verminder het sedert die stakings begin het en dat dit by die dag afneem.

“Misdadigheid het ook skerp toegeneem en daar is gebiede wat nie-amptelik reeds tot ‘no go’-gebiede verklaar is weens die geweld van die stakings en die hoë vlakke van intimidasie.

“Hierdie situasie grens aan ekonomiese terrorisme en die staat moet nou ingryp om orde te bring, al beteken dit daar moet so streng soos Margaret Thatcher opgetree word om vakbonde se mag te breek.

“Vakbonde hou die land gevange en hulle gaan ongestoord met hul vernietigingswerk voort omdat hulle weet daar word niks aan hulle gedoen nie. Dan spog die ANC-regering steeds met sy ‘Good Story’ oor werkskepping.

“Wat in Rustenburg gebeur, is rampspoedig vir die hele land. Die stad gaan tot niet gaan indien die situasie voortduur,” sê adv. Alberts.

 

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403