ANC-uitsprake arrogant en desperaat

2013-11-26
Die Redaksie

“Die ANC is arrogant en uitdagend deur telkemale vergelykings tussen hulself en God te tref,” het mnr Jan van Niekerk, provinsiale leier van die Vryheidsfront Plus in die Vrystaat, gesê.

Dit volg na die nuutste uitlatings van die Vrystaatse premier, mnr. Ace Magashule.  Magashule het gesê: “Om kwaad te wees vir die ANC is soos om kwaad te wees vir God.”  Van Niekerk bestempel sy nuutste uitlating as arrogant, aangesien niemand en geen organisasie homself met God kan vergelyk nie en veral nie vir goedkoop politieke gewin nie.

Uitsprake soos hierdie wys die minagting wat die ANC vir godsdiensgroepe en spesifiek vir Christene in Suid-Afrika het. Dit is nie die eerste keer dat ANC-leiers sulke vergelykings tref nie.

Die VF Plus eis dat politieke leiers ‘n voorbeeld vir die massas stel, maar deur sulke ondeurdagte uitsprake word die massas doelbewus verkeerd opgevoed en gelei.

Die tyd het aangebreek dat politieke leiers aanspreeklik gehou word vir sulke uitsprake.  Die feit dat hoë profiel politici hierdie uitlatings maak, laat ‘n mens weereens besef wat die waardes en desperaatheid van die ANC en hulle leiers is.

 

JAN VAN NIEKERK

083 743 2042 / (058) 625 0063/4