ANC se poging om munisipaliteite in die Wesrand in 'n metro te omskep, gestuit

2015-07-07
Die Redaksie

Die ANC se poging om munisipaliteite in die Wesrand in ʼn metro te omskep, is weer eens gestuit. Dit volg nadat die VF Plus ʼn klag gelê het by die Munisipale Afbakeningsraad omrede die munisipaliteite in die Wesrand nie die voorgeskrewe regulasies nakom om as ʼn Kategorie A munisipaliteit verklaar te word nie, sê Amanda de Lange, streeksleier van die VF Plus in die Wesrand.

“Die Munisipale Afbakeningsraad het tydens ʼn mediakonferensie, wat die afgelope Vrydag by OR Thambo gehou is, aangekondig dat die raad nog nie ʼn besluit geneem het oor die totstandkoming van ʼn metro nie. Dit is vreemd dat ʼn mediakonferensie gehou word voordat die betrokke munisipaliteite of raadslede daarvan in kennis gestel is. Verder, bevraagteken ons die feit dat die mediakonferensie aan die Oosrand gehou is en nie eerder plaaslik waar belangegroepe dit kon bywoon nie”.

Volgens beriggewing van Times Lives, het die voorsitter van die Afbakeningsraad, me. Jane Thupana, gesê dat die minister van Koöperatiewe Regering en Tradisionele Sake, mnr. Pravin Gordhan, se aansoek om ‘n Kategorie A Metropolitaan aan die Wesrand te vestig, nie betyds ingedien is nie. Sy het gesê die Wesrand-aansoek moet dieselfde prosedure volg as ander afbakening-voorstelle.

 

Volgens raadslid De Lange, sal die herafbakening van die grense van Mogale City, Randfontein, Westonaria en Merafong City ʼn groot impak hê op die uitslag van die 2016-munisipale verkiesing. “Dit wil voorkom asof die ANC die herafbakening so spoedig moontlik wil afhandel voor die 2016-verkiesing - tot groot voordeel van die regerende party”.

De Lange het bevestig dat die Vryheidsfront Plus, weer soos in 2012, die samesmelting sal teenstaan. “VF Plus is van mening dat ʼn samesmelting nie tot voordeel van die belastingbetalers sal wees nie. Belastingbetalers onderhou reeds die nie-betalende gemeenskappe in al vier areas.”

Die VF Plus sal nie onder hierdie omstandighede die samesmelting ondersteun nie. Die party is van mening dat die herverdeling van rykdom nie voorspoed waarborg nie, selfs al vermeerder die tesourier en ander staatsinstellings finansiële ondersteuning in die gebied.

Inwoners wat gekant is teen die voorgestelde metro aan die Wesrand, kan deelneem aan ʼn aanlynpetisie wat voorgelê gaan word aan die Afbakeningsraad en die Minister van Koöperatiewe Regering en Tradisionele Sake. Die petisie is beskikbaar by www.mymunisipaliteit.org.za . Klik op die “Munisipale Petisies”-skakel en kies “Wesrand Afbakeningspetisie” om die petisie te onderteken.

Amanda de Lange

Tel: 071 604 9498