ANC saboteer nog ʼn raadsvergadering van Mogale City

2017-02-13
Me. Amanda de Lange

Die ANC–speaker vir Mogale City het nog ʼn poging van dié stad se veelparty-regering gesaboteer om strukture in plek te plaas sodat belangrike probleem-kwessies van die stad aandag kan kry , sê Amanda de Lange, raadslid van die VF Plus wat deel is van die veelparty-regering van Mogale City.

Ondanks die onlangse besoek van mnr. Paul Mashatile, Gautengse LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake en sy afvaardiging wat onderneem het om op te tree teen die volgehoue ​​ondermyning van rade se daaglikse bedrywighede, is niks tot op hede aan die saak gedoen nie.

Volgens De Lange was dit verlede Vrydag (10 Februarie) duidelik dat die speaker ANC-raadslede onbehoorlik bevoordeel deur toe te laat dat die ANC die regerende partye boelie en intimideer met neerhalende opmerkings en om hul lede te verhinder om met die speaker te praat.

De Lange sê sy wou ʼn paar keer op ʼn punt van orde ʼn spreekbeurt kry, maar die speaker wou haar nie toelaat om te praat nie.

"Die ANC is desperaat om die munisipale bedrywighede en dienslewering te ontwrig ten einde die LUR sodoende te dwing om Mogale City onder administrasie te plaas in ʼn poging om weer beheer oor te neem.

“Dit is onaanvaarbare gedrag van swak verloorders. Hulle is bereid om Mogale City te vernietig in ʼn poging om weer hul hand op die beursie te kry.

“Toe die ontwrigtingspoging op die vergadering Vrydag nie die gewenste uitwerking gehad het nie, het die ANC-raadslede gekla dat hulle onveilig voel met die publiek in die galery wat duidelik hul misnoeë met die speaker en die ANC-raadslede se optrede te kenne gegee het.

“Die speaker het dit as verskoning gebruik om die vergadering te verdaag voordat enige besluite geneem kon word.

“Die VF Plus sal nie toelaat dat die ANC wegkom met hierdie doelbewuste pogings om vergaderings te saboteer ten koste van die stad en sy inwoners in ʼn poging om weer die mag in die hande te kry nie.

“Die veelparty-regering gaan klagtes indien teen die betrokke persone by Mashatile. Dit sal hom dwing om op te tree. Indien dit nie gebeur nie, sal verdere stappe teen Mashatile en die ANC van Mogale City geneem word,” sê De Lange.

 

Kontaknommers: 071 604 9498