ANC-regering se pogings om wittes na die SANW te lok, is nie eerbaar nie

2015-09-08
Dr Pieter Groenewald

Die ANC-regering se beroep op wittes om weer by die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) aan te sluit, is nie eerbaar nie aangesien beleid soos transformasie en regstellende aksie (RA) wittes geleenthede op bevordering ontsê, sê dr. Piete Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor verdediging.

Dr. Groenewald het vandag met die debat oor die Wysigingswetsontwerp oor die Verdedigingswet gesê die regering doen boonop ʼn intelligensie-ondersoek na die betrokkenheid van oud-weermagsoldate wat tans teen Boko Haram veg aangesien Suid-Afrika glo dié soldate se kundigheid benodig.

Hy sê die pogings om wittes by die SANW te laat aansluit, is skynheilig. “Die ANC het in 2004 deur sy beleid van transformasie en regstellende aksie 77 kolonels afgedank waarvan 76 wit was. In 2006 is die offisiersvormingskursus by die leërgevegskool ingestel, maar slegs vir swart-, bruin- en Indiër-soldate.

“As die ANC dink hy gaan wit mense na die weermag lok, maar dan vir hulle sê jy kan nie op ʼn offisierskursus gaan nie weens transformasie en regstellende aksie, dan mislei die regering homself as hy dink wittes sal aansluit.

“Indien die regering werklik wysigings rakende verdediging wil aanbring wat in belang van die land is, dan sal hy die Grondwet wysig om weg te doen met regstellende aksie. Want dit is niks anders nie as ʼn rassistiese diskriminerende wet wat die beste mense-potensiaal van Suid-Afrika nie gebruik nie.

“Daar is wel kundigheid van oud-soldate wat die weermag met vrug kan gebruik in sy operasies in Afrika,” sê dr. Groenewald.

Oor die oud-soldate wat ondersoek word, het dr. Groenewald gesê hulle moet eerder bedank word vir die sukses wat hulle teen Boko Haram behaal om vrede in Afrika te vestig.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403