ANC-regering se dubbele standaarde lei tot visum-weiering vir Blade Nzimande

2015-04-29
Adv Anton Alberts

Die ANC-regering kan net homself verkwalik dat betrekkinge met Israel weens verskeie redes soos dubbele standaarde so versuur het dat dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, ʼn visum geweier is om dié land te besoek, sê adv. Anton Alberts, VF Plus-parlementslid en provinsiale leier in Gauteng.

Adv. Alberts sê die ANC-regering se eensydige kant kies in die komplekse stryd tussen Israel en Palestina, sy inmenging in die huishoudelike sake van Israel en die verbod op die vrye beweging van regeringsamptenare tussen Israel en Suid-Afrika, het sonder twyfel ʼn groot rol gespeel in die besluit van Israel om Nzimande se visum te weier.

Hy sê dit bly dubbele standaarde as die ANC openlike vyandig teenoor Israel optree en die land van apartheid en rassisme beskuldig maar dat niks gesê is toe president Mugabe sy rassistiese grondprogram van stapel laat loop het en onlangs in blatant gesê het hy wil ʼn wit gesig “nie sien nie.

“Nzimande self het al gevra vir ʼn akademiese boikot teen Israel en is nou verbaas as Israel hom boikot. As jy in die internasionale politiek klappe wil uitdeel, moet jy gereed wees om klappe terug te ontvang.

“Die VF Plus, as ʼn voorstander van selfbeskikking, gun ook die Palestyne hul reg tot selfbeskikking. Daarom is die party van mening dat die tweestaat-opsie ʼn oplossing vir die probleme tussen Israel en Palestina bied.

“Die Suid-Afrikaanse regering moet hom weerhou van eensydige optrede in ʼn komplekse probleem wat ver buite ons belangesfeer val,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403