ANC-regering mors met land se minerale rykdom

2014-07-15
Adv Anton Alberts

Toespraak: Begrotingsposdebat vir die Department van Mineralebronne: 15 Julie 2014

Dit is kommerwekkend dat die regering reeds sy lippe aflek vir die ontginning van skaliegas sonder dat die gevestigde minerale-industrie se probleme behoorlik behandel is, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor minerale.

Adv. Alberts sê die VF Plus is bekommerd oor die wyse waarop die regering omgaan met die minerale bates van die land. Suid-Afrika het ‘n geweldige minerale rykdom, maar die regering sukkel om dit tot die land se voordeel aan te wend.

“Die probleem in die myn-industrie is kompleks en bestaan al lank. Dit kan egter opgelos word en goeie leierskap is nodig om ‘n herhaling van die onlangse uitgerekte onderhandelinge te voorkom.

“Mynbase moet beter na hul werkers omsien en moet belê in gemeenskappe om die myne. Maatskappye soos Kumba het ‘n goeie voorbeeld in hierdie verband gestel.

“Aan die ander kant moet vakbonde ook besef hulle leef in ‘n veranderende wêreld. Waar die stryd voorheen tussen werknemer en eienaar was en ook baie op rassegronde, sal dit voortaan toenemend tussen mens en robot wees.

“Al leef ons nog nie werklik in hierdie wetenskapsfiksie-toekoms nie, ontwikkel meganisasie vining met die tegnologie. Masjiene, robots en ander vorme van meganisasie sal menslike werkers toenemend vervang soos arbeidskoste styg.

“‘n Gebalanseerde benadering is daarom nodig in ‘n omgewing wat arbeidsintensief is. Vakbonde wat te veel eis, kan bedroë daarvan afkom as myne meganiseer of uit die land onttrek.

“Ons wil die minister wel gelukwens dat hy die Wysigingswetsontwerp op die Ontwikkeling van Minerale- en Petroleumbronne eers wil terughou vir hernieude evaluasie. Ons hoop net die president gaan dit toelaat.

“Die gratis 20% aandeelhouding wat die staat sou kry in alle eksplorasie- en produksieregte sal verhinder dat enige beleggings in die industrie plaasvind.

“Die feit dat die staat ‘n verdere 80% kan aankoop sou kon veroorsaak dat die staat in effek maatskappye kan nasionaliseer onder die vaandel van die bestuur van strategiese minerale. Dit is dus niks anders nie as nasionalisering onder ‘n ander naam.

“Daar moet ook ‘n wyse gevind word om mense te vergoed wat van hul mineraleregte ontneem word. ‘n Moontlikheid is om ’n vorige eienaar en die aangrensende gemeenskap aandeelhouding te gee in die nuwe maatskappye wat die minerale ontgin. Dit sal tot almal se voordeel wees,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403