ANC-regering moet verduidelik oor rasse-grondslag vir toekenning van staats-studiebeurse

2015-05-18
Adv Anton Alberts

Die ANC-regering moet verduidelik waarom ʼn nasionale beursskema vir onderwysers, wat byna ʼn dekade gelede in werking gestel is om alle voornemende studente na die onderwys te lok, voortaan net aan persone toegeken gaan word wat in ʼn swart taal onderwys gaan gee, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor basiese onderwys.

Luidens ʼn berig in die Cape Times vandag gaan die omvattende Zunza Lushaka-beursskema, wat voorheen in samewerking met universiteite aan ʼn kwart van alle voornemende onderwysstudente aangebied is, voortaan net gegee word aan persone wat reeds ʼn swart taal magtig is, en hoofsaaklik in die grondslag-fase (grade 1 tot 3) daarin onderwys gaan gee.

Adv. Alberts sê dit is duidelik dat die beurse voortaan hoofsaaklik net swart studente beskore gaan wees en dat wit en bruin totaal uitgesluit gaan word aangesien voornemende studente reeds ʼn swart taal magtig moet wees wanneer aansoek gedoen word om die beurs.

“Wat hier gebeur is niks anders nie as rassistiese diskriminering teen alle jong mense wat net Afrikaans en Engels magtig is. Dit druis in teen die Grondwet wat bepaal dat al elf die landstale gelyke behandeling van die staat moet ontvang.

“Hoe ironies dat die staat sulke diskriminerende praktyke teen wit en bruin toepas om moedertaalonderrig onder swart leerlinge te bevorder terwyl Afrikaans as moederonderrigtaal in die grond vertrap word en Afrikaanse skole en universiteite se toekoms al hoe meer onseker raak.

“Uit die berig blyk dit dat met Afrikaanse en Engelse leerders gepraat is en dat hulle baie ongelukkig is omdat hulle nou, 21 jaar na demokrasie, aan die ontvangkant van rassisme is.

“Die VF Plus sal die situasie nie sonder meer aanvaar nie, en sal die minister vra om te verduidelik wat aangaan. Dit is uiters kommerwekkend dat selfs staatsgeld nou gebruik word om teen wit en bruin studente te diskrimineer, sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403