ANC-regering moet ophou om geleenthede van wit jeugdiges te weerhou

2015-06-11
Dr Pieter Groenewald

Wat die ANC-regering met die wit jeug van Suid-Afrika doen, is niks anders nie as rassisme in sy ergste graad, en die regering maak dit uiters moeilik vir wit jeugdiges om by te dra tot die ontwikkeling van Suid-Afrika, sê dr. Pieter Groenewald, nasionale voorsitter van die VF Plus.

Dr. Groenewald het vandag met die parlementêre debat oor jeugontwikkeling gesê die regering wil die jeug van Suid-Afrika net ontwikkel in terme van die Vryheidsmanifes van die ANC, en die VF Plus sal in hierdie verband nie ʼn beleidsdokument van die ANC ondersteun of uitvoer nie.

Volgens dr. Groenewald dui al die regering se uitsprake daarop dat hy net sy kaders en ondersteuners wil ontwikkel. Hy sê die mees benadeelde jong mense en groepe in Suid-Afrika is die wit jeug, en die ANC-regering gaan uit sy pad om klippe in die weg van die ontwikkeling van wit jeug te rol bloot op grond van hul velkleur.

“Wit jeugdiges se aansoeke om toelating en beurse by universiteite word afgekeur nie op grond van meriete nie, maar op grond van hul velkleur. As hulle aansoek doen vir werk, word hulle nie afgekeur op grond van hul opleiding, kwalifikasies en meriete nie, maar op grond van hul velkleur weens regstellende aksie.

“Dit is niks anders nie as rassisme in sy ergste graad. Die regering sê hy veg teen rassisme en dit moet uitgeroei word, maar hy pas dit self passievol toe teenoor die wit jeug.

“Wat Suid-Afrika nodig het, is om die beste mense vir die werk te kry wat die beste opgelei is om die beste te lewer vir die ontwikkeling van die land.

“Waarom as ʼn wit student aansoek doen om medies te studeer, moet hy ʼn sekere hoë punt behaal, maar ʼn swart student se punte kan maar laag wees? Ons beledig eintlik die mense van Suid-Afrika, want wat dit eintlik sê, is dat ons nie die bestes wil hê nie.

“Ons sien tans hoe Eskom en ander openbare ondernemings in duie stort waar regstellende aksie kundigheid uitgedryf het en omdat meriete nie tel nie.

“Die VF Plus wil vir die ANC sê as hy erns het met die ontwikkeling van Suid-Afrika, moet hy wegdoen met regstellende aksie, want die wit jeug wil ʼn bydrae lewer, en die regering moet ophou om klippe in hul pad te rol,” sê dr. Groenewald.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403