ANC-plan om Afrikaner-beelde eensydig te skuif, is soos om Khoisan-tekeninge van rotse af te vee

2013-09-29
Adv Anton Alberts

Die ANC se plan om Afrikaner-standbeelde eensydig te skuif, is so kortsigtig soos om Khoisan-tekeninge van rotse af te vee, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor kuns en kultuur.

Adv. Alberts sê indien die ANC eensydig beelde wat deel is van die Afrikanergeskiedenis wil skuif, sal niks hulle keer om ander kultuur-historiese elemente van ander minderhede, soos die Khoisan, eensydig uit te vee nie.

Volgens adv. Alberts is dit 'n teken van die ANC se minagting van kleiner volke in Suid-Afrika.

“'n Mens moet jouself afvra wat is volgende. Gaan die ANC nou Khoisan-tekeninge van rotse in Nkandla uitvee ten einde te verseker Zuma se heimat val nie onder 'n grondeis nie?

“Die beelde voor die Uniegebou is deel van die Afrikaner- en ook die hele Suid-Afrika se politieke geskiedenis en kan nie weggevee word nie. Van daardie beelde, soos dié van genl. JBM Hertzog, is Afrikaner-vryheidsvegters; wat teen koloniale moondhede soos Brittanje geveg het en het niks met apartheid te make nie.

“Enige eensydige skuif van kultuurhistoriese monumente en beelde wat van belang is vir die Afrikaner, sal in botsing wees met artikels 30 en 31 van die Grondwet wat persone se kulturele lewe waarborg - waarvan erfenis soos standbeelde deel vorm, asook artikel 33 wat regverdige administratiewe optrede waarborg.

“Wat laasgenoemde aanbetref, is die Afrikaner se verskeie verteenwoordigende liggame en die mense in geheel nog nooit gekonsulteer oor die moontlike skuiwe nie. Sou die ANC voortgaan om eensydig die beelde te skuif, sal die ANC dit moeilik in ‘n hof kan regverdig.

“Benewens die regsprobleme wat die ANC hieroor in die gesig staar, is dit duidelik die ANC onderskat die Afrikaner se vermoë om te mobiliseer en in die strate weerstand te bied teen hierdie kultuur-oorlog wat hy probeer voer. Die ANC onderskat die Afrikaner tot sy eie nadeel.

“Die VF Plus sal die planne van die ANC dophou en sal enige voortsetting van die skuif van kultuurhistoriese beelde met alle moontlike stappe teenstaan,” sê adv. Alberts.

 

Adv. Anton Alberts

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403