ANC moet gekeer word in die Wes-Kaap

2013-10-28
Dr Corné Mulder

Dit moet ten alle koste voorkom word dat die ANC in 2014 die regering in die Wes-Kaap oorneem, sê dr. Corné Mulder, parlementslid van die Vryheidsfront Plus en leier van die VF Plus in die Wes-Kaap.

Dr. Mulder het gereageer op die afgelope naweek se uitlatings van die leier van die ANC in die Wes-Kaap, mnr.  Marius Fransman, dat hy wil sien dat die ANC na die 2014-verkiesing in die Wes-Kaap regeer.

“Ons het reeds die ANC in regering in ander provinsies en op nasionale vlak gesien. Die mense van die Wes-Kaap verdien baie beter. Dit is juis die ANC se beleid van regstellende aksie wat ook in die Wes-Kaap teen bruin en wit mense diskrimineer, wat kiesers moet verwerp.

“Die VF Plus in die Wes-Kaap gaan ‘n veldtog teen hierdie diskriminasie teen bruin en wit mense loods.

“Dit is baie belangrik dat alle verstandige mense in die Wes-Kaap in die 2014-algemene verkiesing na die stembus sal gaan en daar teen die ANC stem.

“Die VF Plus in die Wes-Kaap is bereid, en sal met ander politieke partye saamwerk, om seker te maak dat die ANC nie in beheer kom van die Wes-Kaap in 2014 nie,” het dr. Mulder gesê.

 

Dr. Corné Mulder

Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403