ANC in Gauteng koop stemme met belastingbetalersgeld, sê VF

2013-11-18
Die Redaksie

“Die ANC koop stemme met R140 miljoen wat deur die belastingbetaler voorsien word”, sê Jean Kriek, leier van die VF Plus Jeug in Gauteng.

Dit volg nadat die Gautengse regering aangekondig het dat hulle twee werkskeppingsaksies, Zivuseni Reload Program en UOWP gaan loods.  Die aksies fokus op jongmense en mense met gestremdhede van voorheen benadeelde groepe en beoog om tussen 5 000 en 6 000 werkloses na die arbeidsmark te lok met ‘n 7 maande werkskontrak .

Volgens Kriek beloof die ANC in Gauteng werksgeleenthede aan jongmense wat nie volhoubaar is nie. “Van die R140 miljoen wat begroot is vir 6000 begunstigdes, is die gemiddelde spandering ongeveer R23 000 per begunstigde oor 'n tydperk van 7 maande.   Dit sluit die 5 dag induksie, opleiding en MIV-bewusmakingsprogram in.  Dit beteken dus dat 50% van die besteding teruggeploeg gaan word in die Staatskas in die vorm van ‘opleiding uitgawes’ aangesien die gemiddelde salaris wat betaal gaan word vir n 'n ongeskoolde persoon ongeveer R1 610-00 per maand of R70-00 per dag gaan beloop”.

“Dit is dus duidelik dat hierdie werkskeppingsaksie eerder deel is van die ANC se verkiesingsveldtog as ‘n armoedeverligtingsplan.  Die ANC poog om mense om te koop met stukwerk in ruil vir ‘n stem tydens die komende algemene verkiesing.  Die belastingbetaler finansier dus die ANC se verkiesingsveldtog en betaal boonop ook nog die kontrakwerkers se salarisse vir dienste wat veronderstel is om deur munispaliteite gelewer te word, ” sê Kriek.

Volgens Kriek veroordeel die VF Plus-jeug in Gauteng die projek ten sterkste.  “Ons sal graag wil sien dat die Premier van Gauteng duidelikheid gee oor die werksopsies van die begunstigdes na afloop van die sewe maande dienstydperk.  Dit behoort ook interessant te wees om te sien of die kontrakte  gerieflikheidshalwe gaan verval na afloop van Stemdag 2014”.

 

Jean Kriek

VF Plus Jeugleier:  Gauteng

076 015 2218