ANC grawe Suid-Afrika al hoe dieper in die put van ekonomiese verval

2015-06-09
Adv Anton Alberts

Die tempo van ekonomiese verval in Suid-Afrika is nou so snel dat ʼn mens byna al terugverlang na die ooreenstemmende tyd verlede jaar, en toe het dit reeds ellendig gegaan, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.

Adv. Alberts het vandag met die eerste lesingsdebat van die Begrotingswetsontwerp vir 2015 gesê dit is onmoontlik om die land se ekonomie te laat groei midde in groeiende beleidsonsekerheid, teen-produktiewe ekonomiese groeiplanne en skemas wat neig na ekonomiese selfmoord.

Volgens adv. Alberts het die ANC voorgegee hy is ʼn hedendaagse Moses terwyl hy die land tot op die rand van verskeie afgronde gelei het onder die dekmantel van welluidende name soos transformasie.

“Die Farao van Egipte moes na die Tien Plae bes gee en erken sy beleid werk nie. Die vraag is hoeveel van die self-toegediende plae gaan die ANC nog ignoreer? Want daar gaan uiteindelik ʼn prys vir die ANC self wees om te betaal al kruip die party agter die rokpante van die staat weg.

“Die eerste van hierdie afgronde is die fiskale afgrond. Dit is die diepste en kan in 2026 sy tol eis wanneer die regering na raming net genoeg geld gaan hê vir salarisse en welsyn. Eskom sal ons egter lank voor daardie tyd oor hierdie afgrond stoot. Die ander afgronde is:

  • Die krag-afgrond. Ons het dit reeds bereik.
  • Die water-afgrond: Ons nader hierdie een vinnig. Maak gereed vir beurtwater en die anargie wat dit gaan veroorsaak.
  • Die dienste-afgrond: Ons is ook reeds daar en dit raak dieper namate transformasie en kaderontplooiing die stelsel verkanker. Als te danke aan die ANC.
  • Die grond- en voedsel-afgrond: Dit is nie meer vergesog om te sê dat wye hongersnood ons voorland is met die ANC wat soos ʼn wafferse Stalin grond opkap, versnipper en als vir homself wil toe-eien nie. Als te danke aan kommunistiese denke.
  • Die korrupsie-afgrond: Ons hoor elke jaar van nuwe panne om korrupsie te beveg. Tog word dit net erger. Die etol-skuld kan jaarliks drie keer afbetaal word indien korrupsie uitgeroei word. Moet egter nie geld verwed op die moontlikheid dat dit sal gebeur nie.
  • Mini-afgronde: Daar is vele van hulle wat onderliggend is aan die groteres, soos steenkool waar ons myne nie genoeg steenkool sal kan produseer om Eskom aan die gang te hou nie.

Adv. Alberts sê talle waarskuwing is al aan die ANC gerig deur instansies soos die Wêreldbank en die IMF met die eenvoudige advies om beleidsekerheid te skep, arbeidswetgewing te verslap en entrepreneurs te ondersteun.

“Tot dusver word die advies geïgnoreer. Die uiteinde hiervan gaan wees dat die IMF self sal moet ingryp wanneer die staat finansieel in duie stort. Dan sal die ANC geen keuse hê as om te luister nie,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403