Anargie staar SA Poskantoor (Sapo) in die gesig weens swak leierskap en kommunikasie

2014-09-29
Adv Anton Alberts

Die voortslepende staking by die SA Poskantoor (Sapo) dreig nou om die instelling heeltemal lam te lê en inligting waaroor die VF Plus beskik dui daarop dat permanente personeel nou ook by die stakende deeltydse werkers gaan aansluit, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor kommunikasie.

Hy sê geweld en intimidasie van stakers teenoor nie-stakers en bestuurslede is veral kommerwekkend en daar word gevrees dat selfs anargie die Poskantoor in die gesig staar terwyl personeel, en veral senior personeellede, in die duister is oor die status en stappe wat geneem gaan word rakende die eskalerende industriële aksie.

Volgens adv. Alberts dui uitsprake daarop dat die staking van permanente personeel reeds more kan begin. Boonop blyk dit dat permanente werkers wat voornemens is om te staak, ʼn legitieme aanspraak op verhogings het wat hulle blykbaar nie gaan kry nie aangesien die Poskantoor bankrot blyk te wees.

Van die senior personeel het weens die impak van die staking van deeltydse personeel reeds hul werkers huis toe gestuur omdat daar nie vir hulle werk is om te doen nie. Die effek daarvan is dat pos nie afgelewer word nie.

“ʼn Kommerwekkende aspek wat die bestuurders in die poskantoor in die gesig staar is die gewelddadige aard van die staking en die feite dat die regering en topbestuur in die poskantoor nie met enige klinkklare oplossing vir die probleem na vore kom nie.

“ʼn Senior bestuurder in die Poskantoor se afdeling menslike hulpbronne is reeds in ʼn hospitaal opgeneem nadat hy by sy huis deur stakende werkers aangeval is. Stakers dreig ook om die aanvalle op bestuurders, selfs by hul huise, te verskerp.

“Die effek van ʼn uitgebreide staking deur permanente personeel kan geweldig negatief vir Suid-Afrika wees aangesien dit nie net sakeondernemings sal raak nie, maar ook die vermoë van die SA Inkomstediens (SAID) om belastings te vorder negatief sal raak aangesien baie mense nie toegang tot die elektroniese medium het nie.

“Die staking het begin toe tydelike werkers aangestel is op ʼn laer voordeelvlak as bestaande werkers. Dit is gedoen omdat daar nie genoeg geld was om hulle aan te stel op die vlak van bestaande werkers nie.

“Die probleem nou met bestaande werkers is dat hulle kontraktuele verwagtings om verhogings te kry, nie nagekom word nie en hulle om die rede dreig om te staak. Die netto effek is dat die poskantoor se wiele heeltemal tot stilstand gedwing kan word en dat anargie en geweld kan gedy.

“Suid-Afrika kan in geheel weerloos gelaat word deur ʼn essensiële kommunikasiestelsel wat nie werk nie en die VF Plus doen daarom ʼn beroep op die regering om spoedig en effektief in te gryp en duidelik aan alle belanghebbendes te kommunikeer wat die plan van aksie is,” sê adv. Alberts.

 

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403