Absa se partypolitieke-donasiebeleid verkeerd

2014-02-24
Dr Pieter Mulder

“Die private sektor speel al meer in die hande van die ANC deur hulle donasies aan politieke partye te staak. Dit is die tipe beleid wat daartoe lei dat eenparty-oorheersing uiteindelik ’n permanente verskynsel word,” het dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier gesê.

Dr. Mulder het gereageer op Absa se besluit om nie meer donasies aan sekere politieke partye te gee nie. Volgens hom wys navorsing dat die meerderheid van die VF Plus se ondersteuners Absa-kliënte is wie se geld nou vir ander partye en instansies gegee word.

So ’n besluit bevoordeel die ANC deurdat die ANC reeds die grootste hap van regeringsgeld kry. Absa se geld, wat hierdie bevoordeling in ’n mate vir opposisiepartye gebuffer het, val nou weg.

Die Public Funding Act (103 van 1997) bepaal dat 90% van hierdie belastinggeld proporsioneel tussen partye verdeel moet word. Hierdie bepaling verdeel die geld totaal anders as wat soortgelyke wette in ander lande doen. Dit lei daartoe dat vir die afgelope vier jaar die ANC R252 miljoen teenoor die VF Plus se R4 miljoen ontvang het.

Die demokrasie veronderstel dat alle partye op gelyke voet met mekaar meeding tydens ’n verkiesing. Die deposito om landswyd aan vanjaar se verkiesing deel te neem, is meer as R600 000. Dit is dieselfde vir alle partye. Media-advertensies, plakkate en alle verkiesingsmateriaal kos dieselfde vir alle politieke partye. Vanweë die onregverdige bevoordeling van die ANC uit staatsfondse en omdat al meer private maatskappye hulle steun aan die politiek onttrek, raak verkiesings finansieel al meer onregverdig en eensydig.

Die VF Plus het ’n beroep op Absa gedoen om hulle donasiebeleid te hersien. Om sekere partye bo ander te bevoordeel, is onaanvaarbaar. Absa het ook as een van die borge tydens die ANC se Mangaung-kongres opgetree. Die ANC maak jaarliks etlike duisende rande deur stalletjies tydens hulle ander beleidskongresse beskikbaar te stel. Absa neem nog deurlopend hieraan deel deur telkens so ’n stalletjie te koop. Hierdie praktyke versterk die persepsie dat Absa die ANC bevoordeel en ander partye benadeel juis nou dat meningspeilings wys dat die ANC in die moeilikheid is.

 

Kontaknommers: 082 674 6670 / 083 419 5403