Aanwasbegrotingstoespraak is ontoereikend en verbeeldingloos

2015-11-20
Wouter Wessels

Te midde van die feit dat die Vrystaat ʼn addisionele R 748 miljoen benodig om die huidige te kort te befonds, maar slegs R 238 miljoen ontvang het, was die LUR vir Finansies, me. Rockman, se aanwasbegrotingstoespraak ontoereikend en verbeeldingloos.

Suid-Afrika en die Vrystaat gaan tans gebuk onder ʼn volskaalse finansiële- en ekonomiese-krisis. Dit is in hierdie omstandighede nodig om te prioritiseer en die beperkte fondse aan te wend om kern-areas voldoende aan te spreek. Die volgehoue droogte en gepaardgaande waterkrisis noodsaak die aanwend van fondse om droogtehulp aan landbouers te gee en munisipale infrastruktuur op te gradeer om sodoende waterverliese te beperk.

Die LUR het egter aangekondig dat slegs R10 miljoen ten opsigte van droogtehulp geherprioritiseer is. Dit terwyl die Departement van die Premier R27 miljoen meer as die oorspronklike begroting ontvang.

Die al hoe meer stygende staatsdiens-salarisrekening van die Vrystaat is buite beheer en skep die huidige situasie waarbinne die LUR min beweeg ruimte gehad het om fondse aan te was vir noodsaaklike funksies. Indien staatsdiensvakbonde toegelaat gaan word om voort te gaan met eise vir onbillike, onbekostigbare verhogings gaan die provinsie se fondse in totaliteit opdroog.

Die VF Plus vind dit onaanvaarbaar dat die ANC-regering se prioriteite kortsigtig van aard is en dat dit die provinsie se ekonomie finaal gaan vernietig.

 

082 674 6670