Verkorte toespraak gelewer by Vryheidspark oor die beskadiging van standbeelde

2015-04-17
Dr Pieter Mulder

Minister Nathi Mthethwa, minister van Kuns en Kultuur, se openbare gesprekvoering-byeenkoms 17 April 2015 by Vryheidspark oor die beskadiging van beelde het ʼn moeilike situasie geskep omdat dit oop vir almal en ongestruktureerd was. Elkeen kon sê wat hy wil soos hy wil en wanneer hy wil. Sterk emosies, blatante anti-wit rassisme en wyse woorde van ʼn swart professor was deel van die byeenkoms. Die ‘Rhodes must Fall”-studente van Ikeys en Rhodes Universiteit was daar, die Rastafariërs was daar, die tradisionele leiers, verskeie organisasies se jeugorganisasies en verskeie privaat individue wat iets te sê het. Dit was belangrik dat alle kante van die saak gehoor word ten einde balans te kry. Daarom het ek deelgeneem. Ongelukkig het min Afrikaners aan die gesprek deelgeneem. Hieronder is ʼn verkorte gedeelte van my bydrae die dag. Die interessante is dat die gehoor in doodse stilte na my toespraak geluister het en die minister na die tyd ʼn afskrif gevra het.

VERKORTE TOESPRAAK.

Net na 1994 se verkiesing is standbeelde van politieke leiers soos Verwoerd en Vorster links en regs verwyder. Dit het konflik veroorsaak en emosies aan alle kante opgejaag.

Ek was daarna deel van die debatte en komitees in die parlement wat hierdie probleme moes oplos. Die debatte het gegaan oor die name van damme, lughawens en die verwydering van standbeelde.

Ek onthou hoe mnr. Lekota, toe premier van die Vrystaat, ons vertel het hoe hy as ʼn guerrillavegter ʼn bewondering gehad het vir generaal de Wet as een van die wêreld se eerste guerrillavegters in die Anglo Boereoorlog. Mnr. Zuma, as ʼn senior ANC-leier, het vertel van sy waardering vir die wyse waarop generaal Koos de la Rey loopgrawe teen die Engelse gebruik het in die oorlog.

Die besluit is daarop geneem om standbeelde uit die bevrydingstryd by te voeg en om in plaas van politieke name geografiese name te gebruik. So is die Verwoerddam na die Gariepdam verander. Dieselfde met lughawens. Jan Smuts het Johannesburg Internasionale Lughawe geword; Louis Botha-Lughawe het Durban lughawe geword.

Hierna is die Wet op die Beskerming van Nasionale Erfenishulpbronne, Wet 25 van 1999, as resultaat van die gesprekke op die wetboek geplaas. Dit het prosedures daar gestel oor hoe om erfenisstukke soos standbeelde voortaan te hanteer.

Tans, met ʼn nuwe geslag, begin die debatte weer van voor af.

Die ANC Vryheidsmanifes verklaar: Suid-Afrika behoort aan almal, swart en wit.

Suid-Afrikaners het weens vele redes ʼn verdeelde verlede. Suid-Afrika, soos ons hom vandag ken, het eers in 1910 tot stand gekom. Die Britte moes deur die Anglo-Boereoorlog die Afrikaner teen sy wil dwing om deel van die Britse Suid-Afrika te word. Dit het daartoe gelei dat ons verskillende helde het. Ons moet ook aanvaar dat alle historiese figure omstrede is. Ek kan goeie en slegte argumente noem vir die meeste historiese Afrikaner figure en figure van alle ander groepe in Suid-Afrika.

Kom ek noem ʼn voorbeeld: Al is daar in 1994 besluit lughawens sou geografiese en nie politieke name kry nie, het die regering die ooreenkoms verbreek. In Durban is die lughawe onlangs weer herbenoem as Koning Shaka lughawe.

Koning Shaka sal vanweë sy oorlogsverlede nie in 2015 met ʼn Nobel-vredesprys of ʼn menseregte toekenning vereer word nie. Hy was egter die stigter van die Zoeloenasie en het so ʼn groot rol in Suid-Afrika se geskiedenis gespeel. Ek respekteer dit en daarom het ons nie beswaar gemaak toe die lughawe na hom hernoem is nie.

Ek beskou Paul Kruger as die stigter van die Afrikanernasie. Hy is een van my helde as ʼn vryheidsvegter teen Europese kolonialisme en imperialisme. Die groot dryfveer en fokus van sy loopbaan was om sy mense te bevry van Britse kolonialisme. Na twee oorloë teen die Britte en in ballingskap in Switserland, het hy gesê: “Ek is gebore onder die Britse vlag. Ek wil nie onder die Britse vlag sterf nie”. Ek verwag dat dieselfde respek wat Koning Shaka gekry het, ook Paul Kruger en sy standbeelde toekom.

Wat van Louis Botha? Na die Bambatha-opstande in Natal in 1906 het die Britse owerhede die Zoeloe-koning Dinuzulu ka-Cetshwayo in aanhouding geplaas. Dit was ʼn vernedering vir die Zoeloes. Louis Botha was ʼn ou vriend van die koning en het hom gehelp in sy stryd teen hoofman Zibhebu.

Toe Botha, ʼn Afrikaner, twee jaar later in 1910 die eerste Eerste Minister van die nuwe Unie van Suid-Afrika geword het, was een van sy eerste besluite ʼn opdrag dat die Zoeloe-koning onmiddellik vrygelaat moet word.

Vandag staan die standbeelde van Louis Botha en Dinuzulu langs mekaar in Durban uit erkenning hiervan. Moet ons hierdie stukkie geskiedenis uitvee deur een of albei van die standbeelde te verwyder, of kan ons iets oor stryd en versoening hieruit leer?

Die ANC Vryheidsmanifes sê Suid-Afrika behoort aan swart en wit. Die boodskap wat ek en baie Afrikaners die afgelope weke gekry het, is: “Ons wil julle bydrae en belasting hê, maar julle erfenis, helde en kultuur is nie aanvaarbaar nie”.

Jy kan my nie so opdeel nie. Geen mens kan so opgedeel word nie.

Hier is ons voorstelle:

1. Die beskadiging van standbeelde is ʼn misdaad. Dit moet deeglik gepolisieer word, en daar moet streng teen oortreders opgetree word.

 Dit maak geen sin om standbeelde soos dié van Andrew Murray as prediker en Ghandi as die simbool van passiewe protes te beskadig nie. Selfs die perde is nie veilig nie. In Port Elizabeth is die standbeeld vir die Britse perde in die Anglo-Boereoorlog beskadig. Die arme diere kon nie eens kies aan wie se kant hulle wou veg nie!

In gesprekke met mense het ek die afgelope tyd beleef hoeveel van die goeie verhoudinge wat in die laaste twintig jaar opgebou is, binne net drie weke hierdeur ongedaan gemaak is.

2. Leiers van alle kante speel ʼn belangrike rol in die goeie verhouding tussen mense en moet ʼn voorbeeld stel met hul uitsprake.

3. Suid-Afrikaners van alle ouderdomme moet deeglik opgevoed word in ʼn gebalanseerde gesiedenis wat alle kante se weergawes oordra. Die geskiedenis mag nie eensydig misbruik word om mense vir vandag se politiek te mobiliseer nie.

4. Beelde moet bygevoeg word om ʼn balans te bring en tevredenheid onder almal te verseker. In 1995 het ek in die parlement voorgestel dat ʼn standbeeld van mnr. Mandela by die parlement opgerig word. Die voorstel is met groot geesdrif ontvang, maar niks het gebeur nie.

5. Hierdie sake moet met wedersydse empatie en met inagneming van mekaar se gevoelens aangepak en bespreek word.

Die huidige politieke styl van vernietiging gaan nie probleme oplos nie, maar gaan nuwe konflik en verdeeldheid in ʼn diverse land skep.

Die tyd het aangebreek vir verstandige en verantwoordelik Suid-Afrikaners van alle gemeenskappe om saam te staan teen radikale elemente wat onmin wil stook.

Mense wat ander se standbeelde en kultuurskatte vernietig, stel nie belang in vreedsame naasbestaan en ʼn toekoms vir almal in die land nie