Tyd is ryp vir nuwe volwasse debatte oor minderhede en hulle regte in Suid-Afrika.

2015-05-12
Dr Pieter Mulder

Wat is die dilemma van minderhede? Alexis de Tocqueville het dit raak opgesom: "Daar word van die minderheid verwag dat hulle deel van die meerderheid moet word,-- maar hulle kan dit slegs doen as hulle die dinge laat vaar wat werklik vir hulle belangrik is en wat die verskille (of konflik) tussen hulle en die meerderheid skep."

Na die Anglo-Boereoorlog het verskeie leiers versoening tussen Afrikaans en Engels gepraat, maar verengelsing van die Afrikaner as verskuilde doelwit gehad.

In daardie 1912 versoeningsklimaat skryf genl. JBM Hertzog: "die enigste Afrikaner met wie die Engelssprekende kan saamwerk, is die een wat oogluikend en dikvellig al sy regte prysgee om Engelse ‘oorgevoeligheid' nie te kwes nie!"

Die huidige ANC transformasie debatte oor Afrikaanse Universiteite en skole stuur dieselfde boodskap. ‘Wees redelik en verander die oorwegend Afrikaanse Universiteit van die Vrystaat na ʼn tweetalige instelling,” vra die ANC.

Skaars tien jaar later is die eis hierdie week: “Skaf Afrikaans heeltemal af by die Vrystaatse Universiteit want tweetaligheid werk nie.”
Bied jy weerstand en eis sekere regte op, is jy glo rassisties.

Ek praat onlangs met Afrikaanse studente oor oplossings vir ons probleme. Ek verwys na lande met soortgelyke probleme as ons. Ek vertel van hulle oplossings. Dit gaan oor hoe minderhede daar op hulle regte aanspraak maak. Hoe gemeenskappe maksimale selfstandigheid kry. Hoe federalisme, outonomie en gebiedsregte werk. Oor die verskillende vorme van selfbeskikking in die wêreld. In Suid-Afrika word die begrip selfbeskikking verkeerdelik tot net die begrip Volkstaat vereenvoudig. Die studente praat opgewonde saam en wil weet waar hulle meer daaroor kan lees.

Toe ek later oor dieselfde begrippe met ouer mense praat, hoor hulle apartheid en AWB. Anders as by die jeugdiges dra hierdie begrippe by hulle swaar aan regse bagasie. Dit is net in Suid-Afrika wat dit so is. By die Europese kongresse wat ek bywoon is dit die linkses en die sosialiste wat hierdie begrippe gebruik as oplossings om onderdrukte minderhede te akkommodeer.

Na Solidariteit se krisisberaad word hierdie begrippe weer druk bespreek. In ʼn Netwerk24 meningspeiling steun 94% dit. Het ons in 20 jaar ryp genoeg geword om nou volwasse debatte hieroor te kan voer? Ek hoop regtig so.

Argumenteer met my oor artikel 30 in Indië se grondwet waarvolgens ʼn godsdiens- of taalgroep die reg op eie onderwys met staatsgeld het.

Argumenteer met my oor Estland se Wet op Kulturele Outonomie vir Nasionale Minderhede. Hierdie wet omskryf hoe die kulturele belange van ʼn minderheid hanteer word sonder dat dit die groter eenheid bedreig.

Gaan lees artikel 39 van die Ethiopiese grondwet – geskryf om te keer dat die land verder uitmekaar spat na die Eritrese burgeroorlog. Die artikel beskryf federalisme en selfbeskikking as oplossing.

Moenie die debat ontduik deur dit as regs of laertrek af te maak nie. Dit wys jou onkunde oor die internasionale debatte. Neem volwasse deel.

Saam met Solidariteit sê ek, ek is hier om te bly maar ek eis die reg op om myself te wees in Suid-Afrika. Is dit te veel gevra?