Pers gesigte: Moenie die debat om rassisme belaglik maak nie, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus

2016-02-09
Dr Pieter Mulder

Pers gesigte: Moenie die debat om rassisme belaglik maak nie, sê d. Pieter Mulder, leier van die VF Plus

Rassisme wat op ʼn berekende wyse mense verneder of benadeel, is ʼn ernstige saak. Daarom dra rassisme van swart kant en van wit kant die kiem om Suid-Afrika en alle verhoudinge te vernietig.

As daar egter ligtelik met rassisme omgegaan word of dit word ʼn heksejag na studente wat na ʼn koshuis-partytjie hulself pers verf, word dit belaglik en word alle perspektief verloor. Dit lei tot teenreaksies by sommiges en dat werklik ernstige rassisme later verkeerdelik afgemaak word.

Die studente het hulself pers geverf en met blinkers bedek om ʼn koshuispartytjie met sterreruim as tema by te woon. Die reuse bohaai daarna met mediaverklarings van allerlei Universiteitsgesagsliggame bevestig dat ons die werklike “plot” (om studentetaal te gebruik) verloor het.

Rassisme kom orals in die wêreld voor. Daar is talle voorbeelde in Amerika die afgelope tyd. Verskeie sokkervoorbeelde in Europa asook die onlangse voorbeelde aan wit en swart kant in Suid-Afrika.

Laat ons sensitief wees oor hoe ander sekere optredes ervaar;

Laat ons sensitief wees oor Suid-Afrika se verlede en dat dit groter wysheid vandag verg;

Maar laat ons nie verspot en belaglik raak deur rassisme in elke kostuum, optrede en uitlating te sien nie.