MANIFES VAN DIE VF PLUS VIR DIE 2014 VERKIESING

A. Inleiding en agtergrond: Die Suid-Afrika van 2014

1. Dit is tyd:

Die VF Plus glo dat dit tyd is vir 'n beter nuwe Suid-Afrika.  Die “nuwe Suid-Afrika” van 1994 het misluk en ’n ou Suid-Afrika geword. Die resep vir nasiebou die afgelope 20 jaar sedert 1994 het nie gewerk nie. Ons  glo in 'n werklike Nuwe Suid-Afrika tot voordeel van al sy mense.

2. Suid-Afrika van 2014:

Die Suid-Afrika wat in 1994 ontstaan het, het muf geraak, vanweë regstellende aksie, werksverlies weens transformasie, marginalisering van minderhede, swak dienslewering, swak bestuur, onbekwaamheid, kaderontplooiing, nepotisme, politieke aanstellings, magsbeheptheid, magsvergrype, korrupsie, bedrog, selfverryking, toesmeerdery, onbevoegdheid, misdaad, plaasmoorde, populisme en ideologiese beheptheid.  

Almal in SA, behalwe die ANC binnekring wat daardeur bevoordeel word, soek ’n land sonder hierdie kenmerke. Die gevolg van hierdie en ander ervarings waarvoor Afrikaners en ander minderhede te staan kom, is dat ’n oproep nou gemaak word om saam te staan vir ’n beter bedeling – ’n bedeling wat taal en minderheidsregte beskerm, Christelike waardes in stand hou en vryheid en geregtigheid waarborg.

In hierdie manifes spel die VF Plus sy visie uit van hoe dit bereik moet word, juis ter verbreding en verdieping van die demokrasie waarop hierdie vryheid gebou word.

3. Vryheid met Geregtigheid:                                                            

Vryheid kan beskryf word as die vermoë en reg om self besluite te neem en uit te voer.

Soos vir die meeste Suid-Afrikaners staan vryheid ook vir die VF Plus sentraal in sy politieke denke. Terwyl die VF Plus die vryheid van sowel die individu, ’n gemeenskap en die staat erken en waar toepaslik wil beskerm, bestaan daar ’n leemte in Suid-Afrika met betrekking tot die aanspraak op vryheid deur gemeenskappe.

4. Wat is die waarheid oor Suid-Afrika?

Die waarheid is dat ons ’n baie diverse land is met verskillende tale, kulture, godsdienste en geskiedenisbeskouings. Maar ook met waarhede dat ons oor meer as 360 jaar gewoond geraak het daaraan om ekonomies ineengestrengel te wees en van mekaar afhanklik te wees. Dat mense glo dat daar in hierdie groot land 'n plek vir ons almal onder die son moet kan wees.

Teen hierdie agtergrond het die VF Plus sy missie herbewoord. ’n Missie wat realisties is en die korrekte en volle waarheid van Suid-Afrika weerspieël.

Die VF Plus se nuwe missie wil 'n droom en ’n ideaal daarstel wat nie net Afrikaners sal motiveer en inspireer nie, maar ook ander minderhede, groepe en soveel moontlik van alle Suid-Afrikaners. Ons glo dat die ANC verslaan kan en moet word en dat hy vervang moet word deur 'n ander regering wat ingestel is ook op dit wat vir ons, sowel as ander minderhede, wesenlik en van belang is.

Dit is gebou rondom die konsep van ware eenheid in verskeidenheid, rondom 'n ware beter lewe vir almal, rondom 'n ware gelyke kans vir almal in SA, met 'n erkenning van die waarhede en werklikhede van die land.

Tans het ons 'n tirannie van die meerderheid sonder 'n sinvolle erkenning van die stem van minderhede. Die bestaan van 'n meerderheid is net een deel van die waarheid van Suid-Afrika. Tans, binne die huidige model, is alle minderhede en nie-ANC-gesindes, gevonnis tot lewenslange gevangenisstraf in 'n oop demokrasie. Dit is nie ware demokrasie nie.

Die korrekte uitgangspunt is dat Suid-Afrika ’n gemeenskap van gelukkige gemeenskappe moet wees. Suid-Afrika is 'n nasie van individue maar ook van gemeenskappe, minderhede en volke wat deur die verloop van die geskiedenis saam in Suider-Afrika geëindig het.

Ons benodig dringend 'n nuwe staatkundige bestel waarin erkenning gegee word aan die diversiteit van Suid-Afrika as die ware boublokke van 'n ware eenheid in diversiteit. 'n Bestel gebou op respek vir mekaar, sonder diskriminasie en rassisme, met gelyke geleenthede, maar met erkenning van elkeen se eie, sowel as die gemeenskaplike. Dus ’n bestel waarin die korrekte vorme van selfbeskikking toegepas word. Dit is die volle waarheid van SA. Soos elders in die wêreld bewys, is hierdie benadering nie in konflik met 'n grondwetlike- of ’n liberale demokrasie nie. Inteendeel, dit word as die nuutste en modernste staatkundige tendense beskryf.

Verder besef die VF Plus dat enige model vir selfbeskikking of selfbestuur, wat as enigste opsie stel dat alle Afrikaners en ander minderhede onmiddellik moet wegtrek van hulle huidige werk- en woonplekke, sterk deur sommige, maar nie tans deur die meerderheid Afrikaners en ander minderhede ondersteun word nie.

Daarom moet Federalisme, lokaliteit, subsidiariteit en selfbeskikking, soos dit internasionaal voorkom, noodsaaklike boustene van so ’n staatkundige model wees.

Daar moet weggebreek word van die skyn-demokrasie wat tans bestaan wat 'n tirannie van die meerderheid is - na ware demokrasie met gelykheid en vryheid vir almal.

B. Uitgangspunt: “Die mens wik, maar God beskik.”

Gelowiges wil op alle lewensterreine die Oppergesag van die Drie-enige God erken en Hom gehoorsaam wees. In nederige erkenning van menslike onvolmaaktheid, word ’n staatkundige bedeling nagestreef wat op dié grondslag bou. Met hierdie belydenis bied die Vryheidsfront Plus sy manifes vir die 2014 verkiesing aan.

C. Beleidstandpunte oor spesifieke sake:

1. Die rol van ’n politieke party

’n Politieke party se rol is o.a om sekere waardes en staatkundige modelle te help vestig, dit op die openbare agenda te plaas en om daardeur maksimale steun daarvoor te verkry.  

Die VF Plus met sy herbewoorde missie reik doelmatig uit na kiesers en ondersteuners en die belange van kiesers buite die VF Plus se tradisionele teikenmark. 

Die VF Plus se nuwe missie maak voorsiening vir modelle waarvolgens die Party hom oor die langtermyn sal kan handhaaf, gegewe die Suid-Afrikaanse demografiese realiteite, en waarvolgens die Party se kernwaardes terselfdertyd behoue sal kan bly. 

Die VF Plus is ook ten gunste van modelle waarvolgens die Party die potensiaal het om ’n verkiesing in samewerking met ander te kan wen, en na 'n verkiesing in koalisies te regeer terwyl ons steeds ons beginsels en kernwaardes behou.

2. Samewerking – Kollektief vir Demokrasie

Die VF Plus het met ander opposisiepartye ’n Kollektief vir Demokrasie gevorm met die hoofdoel om 'n alternatiewe regering daar te stel wat Suid-Afrika sonder al die vergrype van die afgelope 20 jaar sal regeer. 'n Regering waarin ook erkenning aan die regte van minderhede 'n prioriteit sal wees.

’n Onaanvaarbare kultuur van korrupsie, kaderontplooiing en blinde rasseteikens is só deel van die ANC, dat die party verslaan móét word om ’n ommeswaai te kan bewerkstellig. ’n Verkiesing is die enigste tyd om dit reg te kry en samewerking met opposisie partye voor die verkiesing en koalisievorming daarna, is die enigste haalbare werkswyse.

Die VF Plus is reeds deel van die Kollektief vir Demokrasie. Na die verkiesing sal ander koalisies wat die ANC verder kan verswak, ook gevorm word. Deur koalisievorming eerder as samesmelting kan die VF Plus en sy koalisievennote elkeen sy eie identiteit en kernwaardes behou, maar tog saamwerk waar sake van gemeenskaplike belang, byvoorbeeld die uitroei van korrupsie, ter sake is.

3. Die Suid-Afrikaanse samelewing: Individue, ’n gemeenskap van gemeenskappe en kulture

Suid-Afrika is die tuiste van talle kulture. Baie Swart mense het hulle etniese kulture ondergeskik aan ’n veralgemeende swart identiteit gestel. Die ANC is die vernaamste draer hiervan. Nogtans het etniese identiteit nie verdwyn nie.

Party etniese groepe mag uit vrye keuse besluit om hulle eie unieke identiteit ondergeskik te stel aan die veralgemeende standaard. Dit kan egter geen verpligting op ander groepe plaas om dieselfde te doen nie. Selfs as ’n deel van die groep die keuse uitoefen, is ’n ander deel steeds vry om die teenoorgestelde te doen. Die reg tot hierdie keuse is onlosmaaklik deel van die VF Plus se beleid.

4. Afrikaners en minderhede

Afrikaners het ’n reg in Afrika. Nie net as individue wat Afrikaans praat nie, maar as ’n kultuurgroep met ’n toekoms en ’n verantwoordelikheid om besluite daaroor te neem. Suid-Afrika is ons land van oorsprong. Elders is Afrikaners net mense wie se Engels vreemd klink.

Om as Afrikaners te oorleef is tevore die binneland ingetrek, anti-koloniale oorloë geveg en ’n stryd om ekonomiese bemagtiging teenoor die veroweraars gevoer. Onder Afrikaners se leiding het Suid-Afrika die sterkste mag in Afrika geword. In 1994 het ’n nuwe bedeling ingetree, wat Afrikaners verdra, mits hulle by die meerderheid inval.

Verlies aan vryheid klink of dit niks met alledaagse probleme te doen het nie. Die teendeel is waar. Onveiligheid, swak dienslewering, miskenning van die Afrikaner en ander minderhede se simbole en diskriminasie in die werksplek, begin alles met onvryheid. Kulturele, ekonomiese, morele, geestelike en selfs fisiese oorlewing kom in gevaar.

Dit is misleidend om te beweer dat alle Suid-Afrikaners vry is, omdat almal stemreg het. Vryheid is meer as die afwesigheid van beperkings. ’n Ruimer betekenis van vryheid is die vermoë om iets as groep te mag doen; die reg om eie besluite oor eie sake te neem en die mag om dit uit te voer.

Swart nasionaliste het die waarde van getalle besef. Hulle het nie nodig gehad om vir swart oorheersing te veg nie. As 80% van die bevolking swart is, skenk ’n basiese demokrasie die mag onomkeerbaar aan swart nasionaliste. Wie ’n ander model, hoe sinvol dit ookal in Suid-Afrika se unieke omstandighede mag wees, voorstaan, word as “rassisties” en “ondemokraties” uitgekryt.

Dit is presies wat sedert 1994 in Suid-Afrika gebeur. Afrikaners wat die karakter van hulle onderwysinstellings wil behou of plekname wil bewaar, word van rassisme beskuldig. Grondhervorming is eenrigtingverkeer en om teen wittes en ander minderhede in die werksplek te diskrimineer, word geag blote geregverdigde “regstelling” te wees.

As minderhede beswaar maak dat hulle op die kantlyn geplaas word, is die antwoord eenvoudig: “Word deel van die meerderheid.” Hierdie benadering is die kernoorsaak van bykans elke oorlog in die moderne wêreld en die gety draai wêreldwyd daarteen, maar die huidige Suid-Afrikaanse regering volhard met hierdie outydse benadering.

5. Die Suid-Afrikaanse Grondwet

Die Suid-Afrikaanse Grondwet word dikwels die beste ter wêreld genoem. Dit is net ’n halwe waarheid.

Aan die positiewe kant is Suid-Afrika ’n regstaat, wat beteken dat selfs parlementêre besluite aan die Grondwet en beoordeling deur die Grondwetlike Hof onderhewig is. Dit is belangrik, veral as die regerende party, soos tot hede, herhaaldelik groot meerderhede by die stembus behaal.

Die Openbare Beskermer, die Openbare Vervolgingsgesag, die Ouditeur-Generaal, die Grondwetlike Hof, die Menseregte Kommissie, is almal sleutelinstellings waarvan die onafhanklikheid teoreties deur die Grondwet gewaarborg word. Ongelukkig is hierdie instellings in die praktyk slegs so onafhanklik as die mense wat daarin aangestel word.

Nog ’n leemte in die grondwet is die miskenning van kulturele verskeidenheid. In die demokratiese wêreld is die norm om minderhede se kultuur, taal en godsdiens te beskerm. Hulle ontvang beheer oor onderwysinstellings; feesdae en plekname word erken, terwyl versorging van bejaardes en ander deernisgevalle deur die groepe self hanteer word. Kulturele verskeidenheid word soos biologiese verskeidenheid gekoester en bewaar.

Sekere Afrikalande het op ’n duur manier geleer om verskeidenheid te erken. Eers na Eritrea in 1993 amptelik van Etiopië afgeskei het, is ’n grondwet aanvaar wat etnisiteit erken en selfs die prosedure beskryf vir groepe wat wil afstig. Sedertdien is minderheidsgroepe meer geneig om die voordele van Etiopiese burgerskap raak te sien. Na die geweldpleging van 2008 is Kenia ook hervorm om meer gesag na streke en etniese groepe af te wentel.

Die VF Plus beywer hom daarvoor dat die Suid-Afrikaanse Grondwet aangepas word om die verskeidenheid in die land te erken. Intussen word die bevordering en handhawing van Afrikaners se belange binne die raamwerk daarvan as belangrike doelwit gestel en nagestreef. Sleutelklousules is juis deur bemiddeling van die VF Plus daarin ingesluit: Artikel 235 wat die strewe na selfbeskikking wettig en Artikel 185 wat tot die totstandkoming van die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalgemeenskappe gelei het.

6. Selfbeskikking

Die Vryheidsfront Plus is onherroeplik verbind tot die verwesenliking van gemeenskappe, in die besonder die Afrikaner, se internasionaal erkende reg op selfbeskikking, territoriaal en andersins, die handhawing, beskerming en uitbouing van hulle regte en belange, asook die bevordering van die reg op selfbeskikking vir alle gemeenskappe in Suid-Afrika gebind deur ’n gemeenskaplike taal- en kultuurerfenis.

Hiermee sê die VF Plus: “Kom ons jaag elke geleentheid na om, binne grondwetlike verband, groter inspraak en beheer te kry oor sake wat ons alledaagse lewens en ons kulturele oorlewing raak. Kom ons steek ’n hand uit na ander groepe, want die ANC se tirannie van die meerderheid is sleg vir die hele Suid-Afrika.”

7. Wat beteken selfbeskikking en minderheidsregte in die praktyk? Enkele voorbeelde:

7.1. Gesagstrukture

Suid-Afrika se kultuurgroepe het elk ’n kerngebied waar hulle die meerderheid vorm. Watter party ook al in die Vhembe-distrik regeer, dit is onder Venda-beheer. Die Suid-Afrikaanse Grondwet erken ook die gesag van tradisionele leiers en ’n Nasionale huis vir Tradisionele Leiers is in 2009 in die lewe geroep.

Daarteenoor egter word geen gesagstruktuur vir Afrikaners amptelik erken nie. Die VF Plus stel ’n Nasionale Afrikanerraad, saamgestel uit Provinsiale Afrikanerrade, voor. Registrasie van kiesers en die stemproses moet onder oorsig van die Onafhanklike Verkiesingskommissie staan. Uit vrye onbelemmerde keuse en deur vryheid van assosiasie moet elkeen self besluit of hy/sy as Afrikanerkieser wil registreer.

Instellings wat tans onder die staat se toesig resorteer, soos skole en klinieke, sowel as private instellings vir openbare belang, soos kinderhuise, opleidingsinstellings, eksaminerende liggame, monumente en sportklubs, moet die reg hê om by dié rade te affilieer – sonder beïnvloeding van subsidies. Ko-ordinering en subsidiëring van buurtwagte kan bydra om die epidemie van plaasaanvalle en ander misdaad hok te slaan.

Afrikaners kan met vrymoedigheid tot Suid-Afrika se welvaart bydra as hulle reg erken word om sake wat hulle na aan die hart lê, self te bestuur. Die VF Plus sal volhou om hierdie reg op te eis.

7.2. Afrikaner nedersettings

Op meer as een plek het Afrikaners reeds op eie inisiatief, binne die raamwerk van die Suid-Afrikaanse Grondwet en sonder benadeling van enigeen, nedersettings gevestig. Hierdie nedersettings dra tot die ekonomie van hulle streke by.

In die verlede moes Orania Hof toe gaan om sy munisipale status te bereg en Kleinfontein het onder dreigemente van die regering en ander opposisiepartye deurgeloop. Albei sake is uiteindelik met welslae vir die betrokke gemeenskappe geskik.

Die VF Plus dring aan op erkenning van die feit dat hierdie nedersettings konstruktief tot Suid-Afrika bydra. Dit is ironies dat emigrasie uit Suid-Afrika nie polities omstrede is nie, maar wel aksies wat tot sinvolle verblyf in Suid-Afrika lei. Die afhanklikheidskultuur, wat soveel gemeenskappe in Suid-Afrika ondermyn, is hier afwesig. Dit is daarom dat die Xhosa-gemeenskap van Mnyameni aanklank by Orania kon vind en ’n akkoord gesluit kon word tussen hulle.

Die VF Plus staan daarby dat die Zulu-karakter van Nkandla of die Pedi-karakter van Sekhukhuniland net so waardevol as die Afrikanerkarakter van Orania of Kleinfontein is. Trouens, dit kan net voordelig wees as nog sulke gemeenskappe tot stand kom en die VF Plus sal die vestiging daarvan ondersteun en bevorder.

7.3. Kwotavrye sone

Die VF Plus ondersteun die versoek dat die drie distriksmunisipaliteite Pixley ka Seme, ZF Mgcawu (Bo-Karoo en Benede-Oranje) en Namakwa saam tot kwotavrye sone verklaar word – ’n oorweldigend Afrikaanssprekende gebied. Afrikaanssprekendes sal daardeur van transformasie gedrewe kwotas vrygestel word.

Hoewel die streek ’n groot oppervlak beslaan, word minder as 1% van die Bruto Nasionale Produk daar geproduseer. Tog is dit die hartland van verskeie Afrikaanssprekende kultuurgroepe, wat tans onder kulturele transformasie ly. Alhoewel armoede wydverspreid voorkom, is daar tog ruim ontwikkelingsgeleenthede.

Die spesifieke aard van dié gebied is reeds in 1997 deur die destydse adjunkminister van grondwetlike ontwikkeling, mnr. Valli Moosa, erken. Hy het gesê dat die strewe van onder meer die Vryheidsfront, om in dié streek ’n gebied vir Afrikaners te ontwikkel, ’n “legitimate pursuit” is. Orania is juis in die streek.

Die voorgestelde kwotavrye sone word aangebied as ’n gesamentlike projek deur en ten bate van alle Afrikaanssprekendes. Hoewel alle Afrikaanssprekendes nie deel van dieselfde etniese groep is nie, het ons genoeg in gemeen om die potensiaal van die streek te ontsluit.

Bruin Afrikaanssprekendes in die Noord-Kaap het ’n trotse anti-koloniale tradisie met hulle wortels as Khoi, San, Koranna-, Griekwa- en Namavegters, om maar enkeles te noem. Vryheid na 1994 het vir hulle min in die sak gebring. ’n Gemeenskaplike doel kan ons almal tot voordeel strek en die VF Plus sal meewerk om dit te bewerkstellig.

D. Beleidstandpunt oor sake van algemene belang

Omdat VF Plus ondersteuners oral in Suid-Afrika woon, is daar sake van algemene belang, waaroor die party ook sterk standpunte het. Die VF Plus behaal gereeld suksesse daarmee. Dit is nog ’n rede om VF Plus te stem.

1. Taalregte en veeltaligheid

Die VF Plus beskou elke taal as oneindig meer as ’n blote kommunikasiemiddel. ’n Taal is soos ’n tuiste. Elkeen wat van sy/haar moedertaal ontneem word, word as’t ware tuisteloos gelaat, sy/haar menswaardigheid word aangetas en aan disoriëntasie uitgelewer.

Daarom staan die VF Plus vir die erkenning en ontwikkeling van al Suid-Afrika se inheemse tale. Dit is naamlik ’n mite dat ’n taal voortbestaan bloot deur gepraat te word. Die werklikheid is dat daar daagliks tale, wat nie oor die mag en middele beskik om hulle teen dominante en ekspansionistiese tale te handhaaf nie, tot niet gaan.  Daarom is die behoud en uitbou van Afrikaans se hoër funksies belangrik. Afrikaans is een van die enigste tale wat gedurende die twintigste eeu deur die hele proses van modernisering gegaan het en kan dus waardevolle steun en leiding gee aan ander taalgemeenskappe wat dieselfde wil vermag. Die oorlewing van Afrikaans maak die pad oop vir die oorlewing van ander inheemse tale.

Die VF Plus verwerp dus die kruipende taalimperialisme van Anglofiele wat veral deur middel van onderwys, maar ook openbare instellings en staatsdepartemente en in die naam van globale handel en verkeer, inheemse tale aan Engels wil onderwerp.

2. Onderwys

Die ramp wat Suid-Afrikaanse onderwys vandag is, se wortels lê in die verlede – maar nie waar die ANC dit soek nie. Dit lê in ’n bevrydingstryd wat van skole slagvelde gemaak het. Wat kinders geleer het dat bevryding bo opvoeding staan; dat swak toegeruste skole liewer afgebrand as opgebou moet word; dat die eis “Pass One, Pass All” goeie onderwyspraktyk is; dat disrespek teenoor onderwysers deugsaam is.

Die ANC wou Suid-Afrika op sy knieë dwing deur stelsels te vernietig. Na twintig jaar se vernietiging kon hulle die proses nie omkeer of onderwys weer opbou nie. Nuwe beheerstelsels en kurrikulum kan nie die krisis beëindig nie.

Suid-Afrika het twee skooltradisies: “Bevrydingskole” met bogenoemde benaderings; en “onderdrukkers” se skole waar harde werk en hoë standaarde ononderhandelbaar was. Vir die VF Plus is gehalte onderwys in die skolier se moedertaal ononderhandelbaar.

Stelselwye gehalte-onderwys hang van ’n nuwe onderwyskultuur af. Vakbonde met ’n afbrekende tradisie moet onder beheer gebring word. ’n Kultuur van harde werk, stygende standaarde en eerlikheid moet van die presidensie tot die mees afgeleë skool gekweek word.

3. “Regstellende” aksie.

Affirmative Action se korrekte vertaling behoort Bevestigende Aksie te wees. Dit is wat die woord beteken en dit is wat prakties gedoen word. ’n Klein, swart elite word herhaaldelik bevestig, deur misbruik van wetgewing wat Swart Ekonomiese Bemagtiging beveel.

Die VF Plus stem saam dat sommige mense met oorvloed potensiaal, hulle volle potensiaal weens ander gebreke in die stelsels nooit bereik het nie. Sulke mense behoort aktief bygestaan te word, maar sonder benadeling van ander mense. Om egter raskwotas blindweg af te dwing, is ’n veelvuldige onreg.

Sommige mense word in posisies aangestel waarvoor hulle bloot nie toegerus is nie. Dit skep spanning by die persoon self en lei tot onproduktiwiteit. Dan is daar uiters bekwame swart mense wat in enige opset sou presteer, maar die wolk van twyfel hang oor so iemand: Was dit dalk ’n regstellende aanstelling?

Onder Afrikaners, Bruines en ander nie-swartes word ’n nuwe geslag verbitterdes geskep. Mense wat volgens enige middeletoets vir hulp kwalifiseer en die potensiaal toon om te presteer, word op rassegronde oorgesien. Soortgelyke bitterheid het stukrag aan die ANC se magstryd verleen. Die VF Plus wil nie die belangrikheid van die lesse wat daaruit geleer is sien verlore gaan nie en beywer hom om ’n herhaling daarvan te voorkom deur juis billike behandeling van alle Suid-Afrikaners voor te staan.

Terwyl die ANC die vereistes vir “regstellende” aksie wil verhoog en boonop deur ander opposisiepartye daarin gesterk word, staan die VF Plus gevolglik onomwonde daarvoor dat dit geskrap word. Intussen moet Afrikaners se ekonomiese kragte beter gemobiliseer word. Aanduidings is dat toenemend teen jong Afrikaners in die staats- en korporatiewe sektore gediskrimineer sal word. Daarom moet Afrikaners ook streef om as entrepreneurs ekonomies selfstandig te word.

4. E-Tol

Die VF Plus was telkens op die voorpunt van die veldtog teen Gauteng se e-tolstelsel. Die waarde van die paaie word erken, asook die verantwoordelikheid om daarvoor te betaal. Ongelukkig is die projek uit die staanspoor deur administratiewe onbeholpenheid geteister.

Die onwettige wyse waarop tolgelde ingesamel en afgedwing word, asook die buitensporige koste van insameling, is onaanvaarbaar. Verantwoordelike owerhede was nooit gewillig om ernstig daaroor in gesprek te tree nie. Die VF Plus het by twee geleenthede daarin geslaag om die inwerkingstelling van die stelsel te stuit. Die stryd woed steeds in die howe.

5. Die Jeug en werkskepping

Die Suid-Afrikaanse jeug staar enorme uitdagings in die gesig, soos werkloosheid, armoede en ongeletterdheid. 

Werkloosheid in Suid-Afrika het 'n krisisvlak bereik. Die werkloosheidskoers in Suid-Afrika is 24% met slegs 14 miljoen Suid-Afrikaners wat werk het. Meer as 70% van die werkloses is onder 25 jaar oud. 

Werkloosheid moet daarom daadwerklik aangespreek word. Geen regering kan werk volhoubaar skep nie. Daarom is die VF Plus oortuig dat werkloosheid slegs oorkom kan word as regeringsbeleid verander word om 'n gunstige omgewing vir werkskepping en beleggings te bewerkstellig. 

Die VF Plus het 'n vyf-punt plan om werkloosheid en veral jeugwerkloosheid te bekamp:

1. Arbeidswetgewing moet aangepas word om werkskepping te bevorder terwyl billike arbeidspraktyke steeds in stand gehou moet word.

2. Stakings en spesifiek onwettige stakings wat tot die verlies van honderde duisende werksgeleenthede lei, moet daadwerklik beperk en verbied word. Vakbonde se mag moet ingeperk word en hul onverantwoordelike optrede wat tot werksverlies lei, moet deur kragtige wetgewing verhoed word.

3. Rasgebaseerde regstellende aksie en onbillike swart ekonomiese bemagtiging moet opgeskort word. Hierdie beleide het alle Suid-Afrikaners maar veral die jeug gefaal. Slegs 'n klein elite trek voordeel terwyl armoede en werkloosheid steeds hoogty vier.

4. Die VF Plus is ten gunste van ’n jeugloonsubsidie wat, indien dit korrek en billik geïmplementeer word, daadwerklik hierdie uitdagings kan aanspreek. Die VF Plus stel daarom die volgende voorwaardes ten opsigte van die implementering hiervan:

  • Die subsidie moet nie aan regstellende aksie en Swart Ekonomiese Bemagtigingsmaatreëls onderwerp word nie. Werkloosheid strek oor rassegrense heen.
  • Daar moet ’n balans wees tussen die fondse wat vir hierdie subsidies toegeken word en fondse vir beurse en opleiding.
  • Die jeugsubsidie moet ook voorsiening maak vir die bevordering van indiensopleiding.
  • Die afdanking van ouer, ervare werkers moet daadwerklik verhoed word.

5. Onderwys en opleiding moet die jeug vir werk voorberei. Tans is meer as 80% van skoliere wat die skool verlaat nie vir die werksplek opgelei of voorberei nie. Opleidingsinstellings wat vakmanne oplei moet toeganklik en toegerus wees om die jeug toe te rus om die werksplek te betree en moet ook 'n entrepreneursklimaat skep.

Ons land, asook die hele Afrika-kontinent, beskik oor ’n demografiese dividend in die volgende paar jaar weens ons jong bevolking wat aangewend kan word om grootskaalse groei te bewerkstellig.  Kom ons wend al ons jongmense aan om dit te verseker -- kom ons los rasse-diskriminasie vir altyd in die verlede.

6. Grondbesit 

Die VF Plus begryp die emosionele impak wat grondbesit op swart Suid-Afrikaners het. Afrikaners deel immers dieselfde sentiment. Daarom moet grond nie net deur ’n kommersiële lens beskou word nie. Afrikaners wil ook die gemoedsrus hê dat ’n deel van die Afrika-bodem onvervreembaar aan hulle behoort.

Die VF Plus is van mening dat daar genoeg grond vir herverdeling beskikbaar is, maar dat administratiewe gesloer vertragings veroorsaak wat tot nadeel van die land is en tot emosionele opwellings lei.

Die VF Plus se standpunt is dat ongebruikte staatsgrond dadelik aangewend kan word vir herverdeling en dat die beginsel van “vrywillige verkoper, vrywillige koper” daarna gevolg behoort te word.

Die VF Plus is daarteen gekant dat onteieningsmagte by die Minister setel en glo dat sulke magte by ’n hoë hof hoort, aangesien hier ’n fundamentele, grondwetlike reg op die spel is.

Die VF Plus is gekant teen die heropening van grondeise want dit gaan groot onsekerheid in die landbousektor skep. Dit gaan ook verwagtinge by eisers skep wat om finansiële redes nie vervul kan word nie. Waar die vorige proses 95% afgehandel was na sestien jaar, gaan die nuwe eise veroorsaak dat dit nog twintig jaar mag neem om al die nuwe eise af te handel en sekerheid in die landbousektor te kry.

Suid-Afrika kan nie bekostig dat vrugbare grond onproduktief raak nie aangesien die bevolking jaarliks groei en 70% van die bevolking binnekort verstedelik sal wees wat daagliks meer voedsel benodig. Die nuwe proses gaan voedselsekerheid raak wat in elke staat, ook in Suid-Afrika, ’n hoeksteen van stabiliteit is.

7. Landbou

Die prestasie van kommersiële boere teen ’n agtergrond van onbetroubare klimaat, stygende insetkoste, gebrekkige staatshulp in die vorm van navorsing en oordeelkundige tariefbeskerming, teikengerigte aanvalle met oormatige wreedheid, dwing bewondering af.

Die leier van die VF Plus het sedert 2009, as adjunkminister van landbou, bosbou en visserye, veel vermag om landbou te stabiliseer. Die VF Plus erken die strategiese waarde van die landbou as voedselprodusent en werkverskaffer in Suid-Afrika.

Die VF Plus ondersteun groter staatsbesteding aan landbounavorsing om te verseker dat instansies soos die Landbounavorsingsraad en die waternavorsingskommissie Suid-Afrika op die voorpunt van navorsing met betrekking tot skaars hulpbronne kan plaas.

Landbou as primêre bedryf in die ekonomie is ’n wesenlike rolspeler as werkskepper, voedselprodusent en inkomstevermenigvuldiger in die ekonomie en behoort daarom deur die owerheid gekoester te word.

Landbou behoort beskerm te word teen tarief- en subsidiebevoordeling deur internasionale rolspelers en die storting van substandaard ingevoerde landbouprodukte.

Die ironie is dat die grootste verloorders, as landbou in duie sou stort, arm Suid-Afrikaners is. Die VF Plus dring daarop aan dat ’n sosiale, ekonomiese en politieke omgewing geskep word, wat dit vir kommersiële boere moontlik maak om voedselsekerheid te verseker.

8. Polisiëring

Misdaad bly ’n ernstige bedreiging vir almal. Daarom behoort die polisiediens deur professioneel opgeleide lede gelewer en gelei te word. Dit is tot nadeel van Suid-Afrika en al sy inwoners dat topposte in dié diens onder ANC-bewind politieke aanstellings van buite die polisie is. Dit is afbrekend as aanvaar moet word dat jong polisielede nooit die boonste sport sal bereik nie, ongeag bekwaamheid.

Die VF Plus eer polisielede wat hulle werk getrou en vreesloos doen, ongeag die swak omstandighede en vooruitsigte. Daarteenoor verwerp die party die gedrag van polisielede (meer dikwels ontplooide kaders) wat hulself as magshebbers en verhewe bo die reg beskou; wat hul amp vir persoonlike gewin misbruik; ook die brutaliteit wat dikwels daarmee gepaard gaan. Die party dring daarop aan dat die polisiediens toegelaat moet word om te dien en te beskerm, sonder politieke inmenging en binne behoorlike dissiplinêre norme.

Ondoeltreffende polisiëring lei daartoe dat landsburgers vir ’n basiese owerheidstaak self moet betaal. Steeds meer private veiligheidsdienste kom tot stand. Die VF plus dring daarop aan dat hierdie private besteding aan veiligheid van belasting aftrekbaar moet wees.

Geweldsmisdaad met behulp van onwettige wapens vind daagliks plaas en eis jaarliks duisende onskuldige lewens. Die VF Plus staan onwrikbaar by die reg van bevoegde burgers om vuurwapens te besit en in gepaste gevalle ter beskerming van eie lewe en goed dit te mag aanwend, gepaard met die plig tot deeglike opleiding.

Plaasmoorde bly ’n krisis waar die sterftesyfer aantoon dat dit tans gevaarliker is om ’n plaasboer te wees as ’n polisieman. Die VF Plus eis ’n deeglike polisieplan en dat plaasmoorde ’n prioriteitsmisdaad gemaak moet word.

9. Outonomie van provinsies

’n Federale kenmerk van die Suid-Afrikaanse Grondwet is die provinsies. Min daarvan realiseer egter, omdat die toon vir ANC-provinsies in Luthuli-huis aangegee word en nie in die provinsie self nie. ’n Provinsie waar opposisiepartye regeer, ervaar dat nasionale departemente hulle jurisdiksie daar oorskry.

Die VF Plus glo aan die beginsel van subsidiariteit. Dit beteken dat alle gesag op die laagste moontlike vlak uitgeoefen word. Provinsies doen slegs wat munisipaliteite nié kan doen nie en nasionale regerings slegs wat provinsies nie kan doen nie. Dit bevorder deelname en gee ryker inhoud aan demokrasie.

Swak regering en binnegevegte, kenmerkend van ANC-beheerde provinsiale regerings, moet uitgeroei word. VF Plus verteenwoordigers in elke provinsiale wetgewer sal hulle beywer om óf in ’n koalisie die ANC tot ’n val te bring, óf ’n valkoog daaroor te hou.

10. Plaaslike regering

Miskien is die grootste skande van Suid-Afrika na 1994 die munisipale bedeling. Dorpe is saamgevoeg en metrorade is gestig, maar al wat verbeter het, is die vergoeding van raadslede en top amptenare.

Die VF Plus se ondersteuning van subsidiariteit kan moeilik verwesenlik word solank munisipale rade die mees onbekwame vlak van regering is. Die probleem is nie te veel mag op die plaaslike vlak nie, maar te min. Dit kan soos volg verduidelik word:

Munisipale gebiede is so groot, dat dit nie meer regering op voetsoolvlak is nie. Boonop gebruik die ANC munisipaliteite as ’n kanaal vir die ontplooiing van kaders. Die bestuurslui en selfs raadslede wat plaaslik ontplooi word, het dikwels min met die gemeenskap wat hulle moet dien, in gemeen.

Die VF Plus beywer hom vir plaaslike regering wat weer kleiner en plaaslik word. Die voorbeeld van Orania wys wat ’n klein gemeenskap met min hulpbronne sonder staatshulp kan vermag. Plaaslike regering wat werk, is die grootste guns wat Suid-Afrikaners gedoen kan word.

11. Vroue- en kinderregte

Die VF Plus het groot waardering vir die rol wat vroue in die openbare en burgerlike lewe op elke denkbare terrein vervul.

Die VF Plus ondersteun vroueregte, maar weet dat dit in die praktyk slegs verwesenlik kan word deur die bemagtiging van vroue deur opleiding en die skep van geleenthede. Daarvoor sal die VF Plus hom beywer.

Die rol van vroue as moeders van ons land se kinders is ’n wesenlike bousteen vir gesonde gesinne en ’n gesonde samelewing.

Daarom ondersteun die VF Plus maatreëls wat daarop gemik is om vroue en kinders as kwesbare landsburgers te beskerm teen misbruik en mishandeling.

12. Ekonomiese bemagtiging, maatskaplike ontwikkeling en armoedebekamping

Lewenskragtige, selfstandige gemeenskappe is die enigste teenvoeter vir verarming in ’n globale ekonomie. Die VF Plus steun daarom ’n benadering van bemagtiging van gemeenskappe as alternatief vir die regering se model vir swart ekonomiese bemagtiging.

Die beleid van swart ekonomiese bemagtiging het gelei tot swart elite bemagtiging waardeur welvaart eerder rondgeskuif, as geskep is. Dit het tot gevolg dat bates bloot uitgedeel word aan spesifieke swart individue, in plaas daarvan dat entrepreneurskap en gemeenskapsopheffing aangewakker word. Ekonomiese bemagtiging in Suid-Afrika behoort nie te fokus op die verryking van enkele individue nie, maar eerder op die werklike bemagtiging van hele gemeenskappe.

Kritiese elemente van die bemagtiging waarvoor die VF Plus hom beywer, is:

  • die ontwikkeling van selfstandige, plaaslike ekonomieë;
  • groter besluitnemingsbevoegdhede vir gemeenskappe; en
  • die aanwending van groei en ontwikkeling eerder as rasseteikens as bemagtigingsmetode.
  • Dit sluit spesiale ekonomiese sones in wat vrygestel is van regstellende, bemagtigings- en arbeidswette.

Armoede is ’n nasionale probleem wat ’n baie groot gedeelte van die samelewing vanuit alle gemeenskappe raak. Die verskynsel van toenemende wit- en Afrikanerarmoede as een van die onbedoelde gevolge van regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging, verg ook gefokusde aandag.

Armoedebekamping in gemeenskapsverband is deur die jare beproef as die mees effektiewe vorm van armoedeverligting. Daarom sal die VF Plus hom daarvoor beywer om gemeenskapsgebaseerde, maatskaplike diens te bevorder en verwerp die party die toepassing van rassekwotas (eerder ’n middeletoetse) in die toewysing van staatsbefondsing aan maatskaplike diensorganisasies.

13. Gesondheid

Die VF Plus veroordeel die oorregulering van die mediese fondsbedryf waardeur die fondse oormatig belas word en die netto belastinglas op individue vergroot word.

Die mediese fondsbedryf en privaat mediese diensbedryf is ’n noodsaaklike vennoot in die daarstelling van goeie gehalte gesondheidsdienste vir Suid-Afrika.

Die VF Plus sal hom beywer vir ’n nasionale vennootskap tussen privaat- en openbare mediese dienste waarin ruimte gelaat word vir albei om vry van onnodige beperkings te funksioneer, in belang van ’n gesonder bevolking.

Die VF Plus is van oordeel dat die MIV/Vigs pandemie nie deur mediese ingrepe alleen nie, maar slegs deur ’n omvattende maatskaplike heroriëntering gestuit sal word.

Die openbare gesondheid-infrastruktuur moet eers opgegradeer word voordat enige vorm van ’n Nasionale Gesondheidsversekeringskema oorweeg kan word. Nasionale Gesondheidsversekering kan nie gebruik word vir hierdie opgradering nie. 

14. Volhoubare ontwikkeling

Die VF Plus erken dat die aarde een, omvattende ekologiese stelsel is, met beperkte hulpbronne en beperkte vermoë om besoedeling te absorbeer. Die grootste bedreiging vir lewe op aarde soos ons dit ken, is nie dat hulpbronne uitgeput raak nie. Dit is dat die atmosfeer met afvalstowwe oorlaai word, met klimaatsverandering as opvallendste gevolg.

Klimaatsverandering sal waarskynlik tot hoër gemiddelde temperature lei, maar die akute probleem is onstabiele klimaatstoestande. Droë jare word warmer en droër, nat jare lei tot ernstiger oorstromings en albei toestande lei tot versnelde uitputting van hulpbronne. Mense sal daarby moet aanpas.

Die belangrikste oorsprong van afvalstowwe wat in die atmosfeer gestort word, is opwekking van energie. In Suid-Afrika word die oorweldigende meerderheid van energie deur besoedelende steenkool kragsentrales opgewek. Voertuie met petrol en diesel as energiebron dra ook by.

Die VF Plus verwelkom die toenemende klem op sonkrag. Die afgelope tien tot vyftien jaar het die koste van fotovoltaïese panele sodanig afgeneem, dat huishoudelike kragopwekking uitvoerbaar geword het. Die VF Plus moedig alle Suid-Afrikaners aan om in dié rigting te beweeg. Dit sal ekonomiese veerkrag vir huishoudings en die ekonomie as geheel bevorder, terwyl die atmosfeer daarby baat.

Sonstraling in die Noord-Kaap is so beskikbaar, dat ’n sonplaas van veertig vierkante kilometer ESKOM se totale vermoë kan dupliseer. Die berging van elektrisiteit is nog ’n probleem. Tog voorsien die VF Plus ’n tyd wat ESKOM hoofsaaklik die verspreider en stabiliseerder van elektrisiteit is.

Die VF Plus sien gretig daarna uit en beywer hom daarvoor dat die era van fossielbrandstof verbygaan en deur sonkrag vervang word.

15. Buitelandse sake

Suid-Afrika se buitelandse verhoudinge toon ’n warboel van teenstrydighede. Menseregte is die kern daarvan, behalwe met betrekking tot Kuba, China of Arabiese lande. Selfbeskikking vir kleiner volke is uiters belangrik vir Palestina of Suid-Soedan, maar speel geen rol sover dit Tibet aangaan nie.

Afrika moet sy eie konflikte oplos en sterk teen diktators optree, behalwe as dit in Zimbabwe is. Oortreders van menseregte moet aan die internasionale gereg uitgelewer word, behalwe as dit die aangewese regeringshoof van Kenia is.

Die VF Plus eis duidelikheid en riglyne wat die regering self bereid is om te volg. Twintig jaar na magsoorname behoort lande wat ANC-vegters gehuisves of opgelei het, nie meer voorkeur te kry nie.

Die VF Plus beywer hom vir die handhawing van billike menseregte nie alleen in Suid-Afrika nie, maar ook wêreldwyd.

16. Staatsbesteding en korrupsie

Die groot rampe in staatsbesteding, soos die wapenaankope en veiligheidsbesteding in Nkandla, is maar die oortjies van die seekoei. Voor die president nie bo verdenking staan nie, sal amptenare wat met die publiek werk, nie glo dat korrupsie bestry behoort te word nie.

Soos by onderwys, word ’n kultuurverandering vereis. Die beste Openbare Beskermer sal nie korrupsie kan stuit as dit die hele samelewing deurtrek nie.

Die VF Plus verwerp die huidige stelsel van toekenning van tenders en staatskontrakte. Dit moet vervang word met ’n deursigtige stelsel wat op billike mededinging gegrond is en waardeur korrupsie in alle vorme daarvan uitgeskakel kan word. Dit sluit in dat staatsamptenare op geen wyse tenders kan ontvang of daardeur bevoordeel moet kan word nie.

E. Slotsom

As u saamstem dat Suid-Afrika veel beter daaraan toe sal wees as kultuurgroepe en minderheidsgroepe se regte ook erken word; dat Afrikaners en minderheidsgroepe sal baat by beheer oor sake wat na aan die hart lê; dat gemeenskappe vir hulleself verantwoordelikheid moet neem; dat Afrikaners selfstandig van die regering moet funksioneer, stem dan beslis VF Plus.

Dit is die sake wat die VF Plus in elke raadsaal van hierdie land wil bevorder wat daadwerklike betekenis aan die grondwet se aanhef van “Eenheid in verskeidenheid” sal gee .